In vandag se uitgawe van Die Papier berigJana Marx oor die gebrek aan vordering met die geregtelike ondersoeke na staatskaping, en wat aangevoer word as redes daarvoor. Maar wie moes – volgens die Zondo-kommissie – verder ondersoek word? Ilse Salzwedel kyk na van die figure wat uitgesonder is vir verdere ondersoek.
Die Zondo-kommissie het aanbeveel dat die NVG die vervolging van 27 entiteite en 51 individue moet oorweeg.
Die individue moes, volgens die verslag, ondersoek word vir onder andere hul rol in onbehoorlike aanstellings in die openbare sektor, asook onbehoorlike gedrag.
Hul hulp aan die Guptas en ander individue om beheer te neem van staatsbeheerde ondernemings wat Eskom, die SAUK, SAL, Transnet, Prasa, Denel en Alexcor insluit, moes ook ondersoek word.
Volgens die kommissie moes daar gekyk word na strafregtelike vervolging vir bedrog, korrupsie, geldwassery, rampokkery, oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA), die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite (PRECCA), asook die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (POCA).
Van die individue wat uitgesonder is vir verdere ondersoek en strafregtelik vervolging, sluit in: wyle Dudu Myeni (voorsitter van die SAL-direksie), Brian Molefe (voormalige uitvoerende groepshoof van Transnet en later uitvoerende hoof van Eskom), Salim Essa (omstrede sakeman en Gupta-regterhand), Eric Wood (sakeman betrokke by Trillian, geïmpliseer in Transnet-korrupsie) en Anoj Singh (finansiële hoof van Eskom).


Daar is ook aanbeveel dat die NVG optree teen Siyabonga Gama (voormalige uitvoerende hoof van Transnet), Matshela Koko (waarnemende uitvoerende hoof van Eskom en later hoof van elektrisiteitsopwekking), Lucky Montana (voormalige uitvoerende hoof van Prasa), en Arthur Fraser (voormalige hoof van die Staatsveiligheidsagentskap, en later nasionale kommissaris van korrektiewe dienste).


Zondo het ook aanbevelings vir vervolging gemaak teen die voormalige Vrystaatse premier, Ace Magashule.
Hy staan tans saam met 17 ander mense tereg in die sogenaamde asbesdaksaak. (‘n Bedrieglike tender van R255 miljoen aan Edwin Sodi se Blackrock Consulting is ter sake).
Magashule word ook geïmpliseer in die Estina/Vrede-melkplaastransaksie. R280 miljoen, wat bestem was vir ’n bemagtigingsprojek vir swart kleinboere, is aan die Guptas se Estina-maatskappy betaal.
Mosebenzi Zwane (voormalige LUR vir landbou en later minister van minerale hulpbronne) is ook hierby betrek.
’n Hofsaak teen Zwane en vyf ander is in 2024 van die rol verwyder weens onbehoorlike vertragings met die vervolging.
Die appèlhof in Bloemfontein het egter verlede jaar beslis dat ’n herverhoor onder ’n nuwe regter moet plaasvind.
Die kommissie het ook aanbeveel dat Malusi Gigaba ondersoek word vir sy bande met die Guptas. Hy het tussen 2010 en 2018 verskeie ministeriële posisies beklee. Hy was minister van buitelandse sake en later minister van openbare ondernemings, waarna hy minister van finansies geword het.
Die kommissie het bevind dat Tom Moyane (voormalige hoof van die SAID) saam met Zuma ’n sleutelrol gespeel het in die kaping van die inkomstediens, en daarom verder ondersoek moes word.
Nomvula Mokonyane, voormalige minister van water en sanitasie, moes vervolg word vir haar betrokkenheid by Bosasa.
Die verslag het ook bevind dat Gwede Mantashe vir Bosasa-verwante korrupsie ondersoek moet word.
Patrick Gillingham, afgetrede finansiële hoof van die departement van korrektiewe dienste, en Linda Mti, voormalige DKD-nasionale kommissaris, word aangekla van korrupsie, bedrog, geldwassery en oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur met die onreëlmatige toekenning van R1,8 miljard se tenders aan Bosasa (later herdoop na African Global Operations).
Sover vasgestel kon word, sal Gillingham en Mti later vanjaar weer in die hooggeregshof in Pretoria verskyn. Albei is uit op borgtog, en die NVG het in 2024 beslag gelê op hul bates.
Aanbevelings vir vervolging is ook gemaak teen Hlaudi Motsoeneng vir sy rol in die SAUK se amperse ineenstorting, asook teen Faith Muthambi, destydse minister van kommunikasie, wat hom wederregtelik aangestel het (aldus ’n 2015-hofuitspraak).
Die kommissie het ook bevind dat Muthambi haar posisie as minister misbruik het om vertroulike kabinet-korrespondensie met die Guptas te deel.
Die kommissie het verder bevind dat die voormalige minister van openbare ondernemings, Lynne Brown, saam met die Guptas gewerk het.
Aanvullende bron: Public Affairs Research Institute (PARI)
Ilse Salzwedel
Ilse.Salzwedel@diepapier.co.za
