1 sterf, 16 beseer toe voertuig skare in Berlyn tref

Die voertuig wat in die aanval gebruik is. Foto: X/@InfosFrancaises
Die voertuig wat in die aanval gebruik is. Foto: X/@InfosFrancaises

Duitse polisie het Sondag gesoek na ‘n 21-jarige man wat vermoedelik bande met Islamitiese kringe het nadat ‘n voertuig in ‘n skare naby Berlyn se Gay Pride-vieringe ingeploeg het. Een persoon, luidens berigte ‘n vrou, is dood en 16 ander beseer waaronder drie wat in ‘n kritieke toestand verkeer.

Die voorval het ‘n dag van vieringe vir honderde duisende mense by Christopher Street Day, een van Europa se grootste Pride-geleenthede, in rou gedompel. Feesgangers het uit Berlyn se bekendste park gevlug terwyl sirenes deur die nag weerklink het.

Die polisie het aan AFP gesê die verdagte se voertuig is verlate naby die Tiergarten-park gevind. ‘n Grootskaalse soektog, met helikopters en polisielede uit verskeie Duitse deelstate, is van stapel gestuur.

Die polisie en aanklaers het die publiek om hulp gevra om ‘n 21-jarige man, geïdentifiseer as Abdul B., op te spoor en gewaarsku dat hy moontlik gewapen en gevaarlik is.

Volgens polisiewoordvoerder Florian Nath word die verdagte met “Islamitiese kringe” verbind.

Die aanval het kort voor 22:00 Saterdag plaasgevind.

Volgens die polisie het ‘n voertuig, soortgelyk aan ‘n minibussie of sportnutsvoertuig (SNV), die Tiergarten-park binnegejaag en verskeie mense getref.

Duitsland geskok

Een persoon is dood en 16 ander beseer, waaronder drie met lewensgevaarlike beserings, het Dominik Pretz, woordvoerder van die Berlynse brandweer, gesê.

Nog sowat 30 mense is op die toneel vir skok behandel.

Die polisie beskryf die verdagte as skraal, ongeveer 1,90 meter lank, met swart hare, geklee in ‘n swart kappietrui en wit broek.

Ondersoekers het gesê verskeie mense is vermoedelik ook met messe aangeval en dat een of meer persone ná die voorval uit die voertuig gevlug het.

‘n Getuie wat naby die hoofverhoog by die Brandenburghek was, het aan AFP gesê die vieringe is skielik beëindig toe die polisie mense beveel het om huis toe te gaan.

“Gaan asseblief huis toe,” het beamptes aan die skare gesê terwyl nooddienste die beseerdes behandel het.

Die aanval het herinneringe laat herleef aan ‘n reeks voertuigaanvalle en ander gewelddadige voorvalle wat Duitsland die afgelope paar jaar geruk en ‘n hewige debat oor veiligheid aangevuur het.

Kanselier Friedrich Merz het belowe dat diegene wat vir die jongste aanval verantwoordelik is, voor die gereg gebring sal word.

Hy het die voorval as “‘n afskuwelike daad” beskryf en gesê hy en minister van binnelandse sake Alexander Dobrindt word deurlopend oor verwikkelinge ingelig.

Die burgemeester van Berlyn, Kai Wegner, het die aanval veroordeel en dit beskryf as ‘n wrede aanval op “‘n byeenkoms vir ‘n verdraagsame en vreedsame Berlyn”.

Meer as 2 000 polisielede was ontplooi om veiligheid tydens die geleentheid te verseker.

Ná die aanval is bykomende personeel van regoor Duitsland ontplooi, met helikopters wat met hittebeeldkameras toegerus is om die soektog te ondersteun.

‘n AFP-joernalis op die toneel het talle noodvoertuie langs ‘n nabygeleë pad en ‘n groot tent gesien terwyl die polisie die gebied gefynkam het.

Reeks gewelddadige aanvalle

Honderde duisende mense het aan die Christopher Street Day-optog deelgeneem, wat jaarliks besoekers van regoor Europa lok.

Die optog het langs die Brandenburghek geëindig, waar sedert Vrydag konserte aangebied is.

Duitsland is die afgelope paar jaar deur verskeie gewelddadige aanvalle in openbare ruimtes getref, waaronder ‘n mesaanval in Februarie 2025 by Berlyn se Holocaust-gedenkteken, naby die toneel van Saterdag se voorval, waartydens ‘n Spaanse toeris ernstig beseer is.

‘n Siriese man, slegs as Wassim Al M. geïdentifiseer, is in Maart tot 13 jaar tronkstraf gevonnis nadat die hof bevind het dat hy in die naam van die sogenaamde Islamitiese Staat (IS) opgetree het.

In Mei het ‘n Duitse man met ‘n motor teen hoë spoed deur ‘n straat in Leipzig gejaag, twee mense doodgery en ses beseer.

Verlede maand is Taleb Jawad al-Abdulmohsen, ‘n 51-jarige Saoediese psigiater, lewenslank gevonnis nadat hy in 2024 ses mense dood en meer as 300 beseer het toe hy met ‘n gehuurde sportnutsvoertuig deur ‘n besige Kersmark in Magdeburg gejaag het.

Abdulmohsen was ‘n anti-Islam-aktivis en sy getuienis tydens die verhoor is beskryf as onsamehangend en deurspek met samesweringsteorieë en verregse idees.

Die dodelikste aanval in onlangse jare was die vragmotor-aanval op ‘n Kersmark in Berlyn in Desember 2016, waarin 12 mense dood is.

Saterdag se voorval het plaasgevind twee maande voordat kiesers in Berlyn ‘n nuwe deelstaatvergadering verkies.

Meningspeilings dui daarop dat Merz se middel-regse CDU sterk mededinging van die verregse Alternative für Deutschland (AfD) en die verlinkse Linke-party sal ondervind.

Wegner het vroeër vandeesmaand aangekondig dat hy hom nie vir herverkiesing beskikbaar sal stel nie, ná maande van kritiek oor sy hantering van ‘n groot kragonderbreking in Januarie wat vermoedelik deur sabotasie veroorsaak is.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie