Die 52 konstruksiemaatskappy wat deur die konstruksie-ontwikkelingsraad (CIDB) geswartlys is, gaan nou strafregtelik vervolg word. Sake is alreeds met die polisie geregistreer. Hierdie maatskappye van regoor die land het glo vervalste dokumentasie gebruik om tenders van die regering te bekom.
“Hulle is van die CIDB se register van kontrakteurs verwyder en sal nie weer toegang kry tot konstruksiewerksprojekte deur die registrasiestelsel nie,” sê Lennox Mabaso, woordvoerder vir die departement van openbare werke en infrastruktuur, waarvan die CIDB ’n entiteit is.
“Die saak sal ook krimineel vervolg word, omdat die inhandiging van vervalste dokumentasie ’n ernstige oortreding is. Dit kan nie net as ’n administratiwe saak gehanteer word nie” sê Mabaso.
Volgens Mabaso is die name van die 52 konstruksiemaatskappye reeds op 31 Oktober 2025 in die Staatskoerant gepubliseer. Van die maatskappye wie geswartlys is, is onder meer Traction Civils Group, DVS Avenue, Mkoena Group, Vickson Trading en Pamoja Engineering.
Vandat Dean Macpherson in Julie 2024 in sy pos as minister van infratstruktuur en openbare werke aangestel is, het hy na die nakoming van reëls begin kyk, want daar is in 2002 laas kontrakteurs geswartlys. Dit was slegs twee maatskappye, sê Mabaso.
Slegs 12 van die maatskappye wat geswartlys is, is by die boubedryfbedingingsraad (BIBC) geregistreer, sê Danie Hattingh, woordvoerder vir die BIBC. Dis ’n reël dat elke maatskappy met hulle geregistreer is, bevestig hy.
Hattingh sê hulle is in die proses om ook ’n dieper kwessie bloot te lê en dis ’n sistemiese kultuur regoor die Suid-Afrikanse bousektor, waar wette en regulasies nie nagekom word nie. “Baie van die 52 kontrakteurs is tot 2029 geblok vir oortredings wat vervalste B-BBEE sertifkate insluit en fakture vir werk wat nie gedoen is nie.”
Adv. Stephanie Fick van Outa, het aan Die Papier gesê die strafregtelike vervolging van kontrakteurs gebeur ongelukkig nie gereeld en vinnig, of konsekwent genoeg om werklik as ’n sterk afskrikmiddel te dien nie. Volgens Fick is daar te veel gevalle waar ons sien hoe maatskappye of individue wel geïdentifiseer word, maar dat die proses daarna stadig verloop, of dat daar min sigbare gevolge is.
“As die departement werklik voortgaan met strafregtelike klagte en die saak behoorlik opgevolg word, kan dit beslis ’n waarskuwing wees aan ander kontrakteurs wat dink hulle kan dokumente vervals, die tenderstelsel manipuleer, of kanse vat met openbare geld. Die groot toets is egter nie die aankondiging nie, maar die uitvoering.
“Ons het al te dikwels gesien dat daar ferm verklarings gemaak word, maar dat sake later stilweg verdwyn, jare sloer of nie tot suksesvolle vervolging lei nie. As die regering ernstig is, moet daar duidelike opvolg wees.
“Sake moet by die polisie en vervolgingsgesag beland, ondersoeke moet deeglik wees en daar moet uiteindelik sigbare gevolge wees vir die betrokke kontrakteurs en persone” benadruk Fick.
Wat die swartlys tot 2029 betref, is dit ’n betekenisvolle sanksie, maar daar is ’n sterk argument dat ernstige bedrog teen die staat baie swaarder hanteer moet word, sê Fick.
“Waar daar doelbewuste vervalsing van dokumente is, behoort permanente uitsluiting ten minste ernstig oorweeg te word, veral as openbare fondse, dienslewering en die integriteit van die tenderstelsel in gedrang is.”
Fick sê dis belangrik dat die proses regverdig en wetlik waterdig moet wees. Indien ’n permanente verbod ingestel word, moet dit op ’n behoorlike ondersoek, bewyse en ’n billike proses berus, sodat dit nie later suksesvol in die hof uitgedaag kan word nie, benadruk sy.
“My siening is dus dat die stap welkom en nodig is, maar die publiek sal dit eers ernstig opneem as daar werklike vervolging, skuldigbevindings en tasbare gevolge is. Sonder dit bly dit net nog ’n aankondiging. Die regering moet nou wys dat bedrog in staatskontrakte nie bloot administratief hanteer word nie, maar as ’n ernstige misdaad teen die publiek.”
