In die vyftien jaar sedert die beweerde sameswering van verskeie Noord-Kaapse staatsamptenare om die departement van ekonomiese ontwikkeling, finansies en toerisme met wanvoorstellings te bedrieg oor ’n dringende behoefte aan ongeslypte diamante om studente by die Kimberley International Diamond and Jewellery Academy (Kidja) op te lei, is meer as vyf getuies en een beskuldigde reeds dood.
Die sterftes bemoeilik die verhoor van die oorblywende mense wat aangekla word; Tebogo Basil Gaborone (46), gewese seniorbestuurder van projekte, Susan Lizette Wyngaard (56), voormalige hoofdirekteur van handels- en sektorontwikkeling, en Kuberin Packirisamy (60) gewese finansiële hoof.
Patrick Seboko (66), die eerste beskuldigde en voormalige departementshoof, is intussen ook oorlede.
Almal was hooggeplaaste amptenare van die betrokke Noord-Kaapse departement.
In die saak wat bedrog van meer as R6,7 miljoen behels, word hulle daarvan verdink dat hulle in Maart en April 2011 saamgesweer het om die departement met wanvoorstellings te bedrieg oor ’n dringende behoefte aan ongeslypte diamante om studente by die Kimberley International Diamond and Jewellery Academy (Kidja) op te lei in diamantslyp en -poleer.
Volgens die staat had nóg die amptenare nóg Kidja op die betrokke tydstip ’n lisensie of permit om in diamante te handel. Kidja is in 2008 deur die departement en De Beers gestig as deel van die “Diamantstrategie” om beleggers te lok deur diamante te veredel en studente te bekwaam.
Die diamante van 1 429 karaat is na bewering teen R6,7 miljoen van wyle Dean Snyders se Uniteam Investments-besigheid aangeskaf sonder dat die vereiste tenderprosesse gevolg of die diamante vooraf geëvalueer is.
Ander waardeerders het later die waarde minder geskat as wat betaal is. Die diamante is in Uniteam se kluis geberg, waarvoor die departement verantwoordelikheid sou neem as dit verdwyn. Toe die ouditeur-generaal (OG) dit meer as ’n jaar later tydens ’n oudit wou inspekteer, het dit verdwyn.
