T20-WB: Indië vermorsel Black Caps in eindstryd

Bouler Jasprit Bumrah in aksie.

Dit sou ’n kolfvertoning van die eeue moes wees om Indië se allemintige telling van 255-5 in 120 balle baas te raak.

Die eens 20 spanne het binne ’n maand se speeltyd net twee geword: Indië teen Nieu-Seeland. En dit is die laasgenoemde wat in hul kolfbeurt wonderwerke sou moes verrig om eindelik die verdedigende kampioene se trofee bo hul koppe te lig.

Boonop het Nieu-Seeland nog nie een keer in vanjaar se T20-Wêreldbekertoernooi meer as 200 lopies aangeteken nie. Sondag by Narendra Modi-stadion in Ahmedabad, sou ’n eerste wees as hulle die trofee terug huis toe wou neem.

Nieu-Seeland kon egter net ’n skamele 159 aanteken voordat die hele span deur Indië uitgehaal is.

Nieu-Seeland het die loot gewen en Indië se openingskolwers eerste kolfblad toe gestuur.

Indië se Abhishek Sharma het 52 van 21 balle gemoker.
Indië se Abhishek Sharma het 52 van 21 balle gemoker. FOTO: Pratik Koli / CREIMAS vir BCCI.

Hoewel Indië nie van die eerste vier balle af lopies kon aanteken nie, het die vyfde bal vir ses geseil. Die skare se gejuig was oorverdowend. Dis Indië se tuisgrond dié, het hulle dit duidelik gemaak.

Teen die derde en vierde boulbeurte het die kolwers werklik hul ritme gevind. Die bal is in alle rigtings van die horlosie gemoker.

Ná die kragspel het Indië ’n gemiddeld van net meer as 15 lopies per boulbeurt aangeteken. Abhishek Sharma het die vinnigste 50 lopies in vanjaar se T20-toernooi behaal, deur dié mylpaal van slegs 18 balle te slaan.

Openingskolwer Sanju Samson.
Openingskolwer Sanju Samson. FOTO: Pratik Koli / CREIMAS vir BCCI.

Draaibouler Rachin Ravindra het eindelik in die agtste boulbeurt deurgebreek deur Sharma uit te kry.

Ná 10 boulbeurte het Indië 127-1 op die telbord gehad. Sanju Samson het tweede 50 lopies van 33 balle aangeteken – sy derde agtereenvolgende wedstryd om dié mylpaal te behaal.

Nie lank daarna nie het Ishan Kishan ook 50 lopies van slegs 23 balle gemoker.

Jimmy Neesham het egter gelyk of hy Nieu-Seeland se geluk kon laat draai. Hy het met ’n volbal Samson onkant betrap in die 16de boulbeurt om eindelik van dié mokermasjien op 89 lopies ontslae te raak.

Vier balle daarna is Kishan ook paviljoene toe gestuur en die volgende bal is die splinternuwe kolwer Suryakumar Yadav deur Ravindra uitgevang.

Ishan Kishan het ook 50 lopies behaal.
Ishan Kishan het ook 50 lopies behaal. FOTO: Pratik Koli / CREIMAS vir BCCI.

Hardik Pandya is volgende uit, maar Indië kon nogsteeds die tweede hoogste telling van die toernooi vanjaar aanteken: 255-5.

Nou was dit Nieu-Seeland se beurt om te wys wat hulle met ’n kolf in die hand kan vermag.

Openingskolwer Tim Seifert het vinnig begin, maar dit is Indië wat die kragspel oorheers het. Beide Axar Patel en Jasprit Bumrah kon paaltjies neem om Finn Allen, Ravindra en Glenn Phillips vir nege, een en vyf lopies onderskeidelik paviljoene toe te stuur.

Ná die kragspel het die telling op 52-3 gestaan en sou Nieu-Seeland steeds 204 van 84 balle moes kry. Doenbaar, maar talle in die krieketwêreld sou dit as onmoontlik beskou.

Bouler Jimmy Neesham vier een van sy drie paaltjies.
Bouler Jimmy Neesham vier een van sy drie paaltjies. FOTO: Getty Images.

’n Enkele ligpunt het gekom in Seifert se vyftig lopies van 23 balle, maar hy was ook tot dusver toe die enigste Black Caps-kolwer wat die Indiese boulers laat sweet het.

Mark Chapman kon slegs drie lopies behaal voordat hy Pandya se wye bal terug paaltjies toe gehelp het. Draaibouler Varun Chakaravarthy het eindelik Seifert se tyd by die kolfblad, met behulp van Kishan se vangwerk, beëindig.

Ná 10 boulbeurte was Nieu-Seeland se 88-5 maar flou in vergelyking met Indië se telling tydens hul kolfbeurt.

Gemoedere het omtrent hoog geloop toe Arshdeep Singh met ’n slingerbal paaltjies toe vir Daryl Michell op die been raakgegooi het.

Kaptein Mitchell Santner en Mitchell het verbete voortgeveg om tesame 52 lopies van 29 balle te slaan, voordat Mitchell deur Patel uitgehaal is.

Van die laaste vyf boulbeurte sou Nieu-Seeland steeds 117 lopies moes aanteken om te wen.

In twee agtereenvolgende balle kon Bumrah van Neesham en Matt Henry ontslae raak. In sy volgende boulbeurt het hy ’n moedige Santner vir 43 lopies se paaltjies uitmekaar laat spat. Daarna was Jacob Duffy die laaste persoon om sy paaltjie vir drie lopies te verloor.

Dus het Indië met 96 lopies gewen en Bumrah is as die speler van die wedstryd aangewys.

Indië is die eerste span wat dié toernooi vir die derde keer, agtereenvolgend en op eie bodem as gasheerland wen.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie