Wêreldverbruikersregtedag word jaarliks op 15 Maart gevier om die regte van verbruikers te beklemtoon en bewustheid oor verbruikersbeskerming te verhoog. Dié dag word sedert 1983 deur Consumers Internasional (CI) gekoördineer om vier basiese regte te bevorder (sien onder).
In Suid-Afrika word hiérdie regte versterk deur die verbruikersbeskermingswet. Phetho Ntaba, woordvoerder van die nasionale verbruikerskommissie (NCC), sê Suid-Afrika neem ook deel aan die internasionale bewusmaking. “Ons het verskillende aktiwiteite, soos gemeenskapsbewusmaking, werkswinkels en sakeopleiding. Daar is gister in Limpopo se gemeenskap gewerk om hulle bewus te maak van hul regte.”
Elke jaar is daar ’n spesifieke tema wat met dié dag gepaard gaan. Vanjaar se wêreldwye tema is “veilige produkte, selfversekerde verbruikers”.
“Die Suid-Afrikaanse verbruikersbeskermingsowerhede het besluit om hierdie dag te vier onder die tema om die gety teen onbillike sakepraktyke te keer. Onbillike praktyke sluit in verskaffers wat onveilige produkte versprei, en wat buite die verbruikersbeskermingswette kontrakteer, en ander onregmatige optrede deur verskaffers,” sê Ntaba.
Volgens die CI, is 87% van verbande of herroepte produkte steeds aanlyn beskikbaar. Hooffaktore wat vanjaar na gekyk word, sluit onder andere bedrieglikheid en misleidende optrede deur diensverskaffers en deurlopende inspeksies van kleinhandelaars in.
Die vier basiese regte wat deur die CI bevorder word:
- Die reg op veiligheid
- Die reg om ingelig te wees
- Die reg om te kies
- Die reg om gehoor te word
Ook vandag:
- Vrydag die 13de: Dié dag word in Westerse bygelowe as ’n ongelukkie dag beskou, wanneer die 13de dag van die maand op ’n Vrydag val. Die vrees vir die getal 13, staan bekend as triskaidekafobie, terwyl ’n spesifieke vrees vir Vrydag die 13de as paraskevidekatriafobie bekendstaan. Volgens die Encyclopaedia Britannica is daar geen historiese of wetenskaplike bewyse dat die datum werklik meer ongeluk bring as enige ander dag nie.
- Uranus word ontdek: Op 13 Maart 1781, het William Herschel die planeet Uranus ontdek. Volgens die Science Museum-webwerf het Herschel ’n selfgeboude reflektorteleskoop gebruik. Hy het opgemerk dat die voorwerp nie bloot soos ’n gewone ster lyk nie, maar wel soos ’n objek wat stadig beweeg. Na ongeveer twee jaar se waarnemings, het Herschel en ander sterrekundiges in 1783 finaal bevestig dat die objek ’n planeet is.
- Wêreldslaapdag: Die doel van hiérdie dag is om bewusmaking te skep oor die belangrikheid van gesonde slaap en impak van slaapprobleme op die samelewing. Volgens World Sleep Society, ’n internasionale liggaam wat slaapgesondheid bevorder, is die amptelike tema vir hierdie dag “slaap goed, lewe beter”. Dit is ’n boodskap wat beklemtoon dat gesonde slaap nie net ’n behoefte is nie, maar ook die fondament vorm van fisiese, geestelike en emosionele gesondheid.
Verdere interessante dae en gebeure die week:
- Saterdag, 14 Maart vier ons die verjaarsdag van bekende wetenskaplike Albert Einstein, wat in 1879, in Duitsland gebore is. Einstein is veral bekend vir sy relatiwiteitsteorie, wat ons begrip in ruimte, tyd en swaartekrag ingrypend verander het. Hy het in 1921 die Nobelprys ontvang vir sy verduideliking van die foto-elektriese effek.
- Op Dinsdag, 17 Maart, vier ons die nie-amptelike St. Patrick-dag. Hierdie dag simboliseer die tradisionele datum van die dood van St. Patrick 461 n.C. in Ierland.
