Dis ’n rugbyskok só groot, ’n mens kan dit nog steeds nie glo nie. Dit is etlike dae later, en rugbyreuse Paarl Gimnasium moet steeds dié nare nuus verteer: hul eerstespan het Saterdag teen Hoërskool Stellenberg verloor.
Ja, die lang gewag is eindelik verby. 28 jaar se geskiedenis in ’n paar minute weggevee om vir die nuwe legendes plek te maak.
Die jade brigade, oftewel Stellenberg, het Paarl Gim 20-19 geklop, ’n oorwinning wat byna drie dekades laas deur hulle geproe is.
Paarl Gim het eerste punte aangeteken toe hul agtsteman, Hendre van Zyl, ’n gaping aan die klein kant benut het. Stellenberg het volgende ’n strafskop in drie punte verander, voordat Paarl Gim met ’n drie die telling op 12-3 rustyd toe gestuur het.
Dit was egter Stellenberg wat die volgende twee drieë gedruk het sodat hulle eindelik 14-12 kon voorloop
In die 64ste minuut het Stellenberg-losskakel Ethan van Biljon ’n strafskop oorgeklits om die voorsprong tussen die spanne met 20-12 te strek. In die doodsnikke van die wedstryd het Paarl Gimnasium egter ’n drie gaan druk en dit verdoel om die telling 20-19 te maak.
Twee minute oor. Die bal het ’n paar keer spanne gewissel, voordat Paarl Gim eindelik die bal aangeslaan het. Die eindfluitjie het dié telling verewig.
- Kry al die skolerugbynuus op NovaNews.
- Volg ook The Rugby Factory op jou gunsteling-stroomdiens om op hoogte te bly van SA skolerugby.
