Só raak die prysstygings jou sak

Petrolpryse gaan sal na verwagting skerp styg weens die konflik in die Midde-Ooste.
Petrolpryse gaan sal na verwagting skerp styg weens die konflik in die Midde-Ooste. Foto: Unsplash.

Februarie se inflasiesyfer het op 3% dalk laer ingekom as verwag, maar ekonome meen die optimisme is van korte duur.

Op grondvlak maak verbruikers hulself gereed vir hoër brandstofpryse weens die internasionale oliekrisis en heffings wat die tesourie in Februarie se begroting aangekondig het.

Op 1 April sal elektrisiteitstariewe vir direkte Eskom-kliënte ook tot byna drie keer die inflasiekoers styg nadat die Nasionale Energierreguleerder van Suid-Afrika (Nersa), die prysverhoging vir elektrisiteit goedgekeur het.

Munisipale kragverbruikers kyk na ’n verhoging van ongeveer 9,01% vanaf 1 Julie.
Hierdie heffings is vir die amper R55 miljard wat Eskom moet insamel omdat Nersa ’n berekeningsfout gemaak het.

Elize Kruger, onafhanklike ekonoom, het vir Die Papier ’n paar berekeninge gedoen om vas te stel wat verbruikers vir brandstof sal moet hoes.

Kruger se basisscenario is dat olie naby $100 per vat bly. As dit gebeur, sê sy sal die daaglikse onderverhaling omtrent R7 per liter vir petrol en R11 per liter vir diesel bly, terwyl die gemiddelde onderverhaling deur die maand met sowat 20c per liter per dag vir petrol en 30c vir diesel kan toeneem.

“As jy die aanname maak dat die status quo op olie en die rand vir die res van hierdie week bly, sal die onderverhaling teen môre (Vrydag) ongeveer R5,50 per liter vir petrol wees, en R8,50 per liter vir diesel,” sê Kruger.

En as jy die aanname maak dat die status quo op olie en rand vir die res van hierdie maand bly, “sal die onderverhaling teen maandeinde ongeveer R6,34 per liter vir petrol en R10,10 per liter vir diesel wees.”

Sy sê dan moet daar nog 25c sent per liter bygetel word vir die nuwe belastingheffings.

“Die aanname dat die petrolprys opgaan met R5,75 per liter vir 95 ULP, terwyl 93 ULP uitwerk op R5,03 per liter, sal ’n meer realistiese aanname wees,” sê Kruger.

Scenario 1: Hoe sal die prysstyging motoriste raak wat van Maandag tot Vrydag gemiddeld 450 km per dag ry, met ’n bakkie wat ongeveer 8,5 km op ’n liter gee?

Diesel kos tans R18,60 per liter, met die aanname dat die prys met R8,75 per liter styg.

  • Ou prys: 264.7l * R18,60 = R4 924
  • Nuwe prys: 264.7l * R27,35 = R7 240
  • Verhoging in reiskoste: R2 316

Scenario 2: Hoe sal die prysstyging motoriste raak wat met ’n motor wat ongeveer 12km op ’n liter gee, 1000 km van Bloemfontein na Kaapstad ry?

Petrol (93 ULP) kos R20,19 per liter in Maart, met die aanname dat die prys met R5 per liter styg.

  • Ou prys: 83.3l * R20,19 = R1 682,50
  • Nuwe prys: 83.3l * R25,19 = R2 100
  • Verhoging in reiskoste: R417,50

Artikel deur Kaylie Joubert en Jana Marx


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie