Die prys van petrol in Viëtnam het Vrydag met meer as 20% gestyg nadat die regering ’n skerp oornag-verhoging aangekondig het te midde van vrese oor olie- en gastekorte weens die oorlog in die Midde-Ooste.
Lande in Suidoos-Asië ervaar soortgelyke prysstygings ná aanvalle op energie-infrastruktuur in Iran en die Golfstate.
Net voor middernag Donderdag het die Viëtnamese regering aangekondig dat die prys van 95-oktaan-petrol met 20% verhoog word tot 30 690 Viëtnamese dong (ongeveer R19,88) per liter, terwyl diesel met byna 34% gestyg het tot 33 420 dong.
Die jongste styging beteken dat pryse van 95-oktaan-petrol en diesel in Viëtnam – ’n belangrike vervaardigingsentrum – sedert die begin van die konflik einde Februarie onderskeidelik met 50% en 70% opgeskiet het.
Die land se handelsministerie sê in ’n verklaring die verhoging spruit uit die konflik in die Midde-Ooste, Iran se beheer oor die strategiese Straat van Hormuz, asook die oorlog tussen Rusland en Oekraïne.
Volgens die regering het eerste minister Pham Minh Chinh telefoniese gesprekke gevoer om brandstofondersteuning te vra van lande soos Katar, Koeweit, Algerië en Japan.
Die burgerlugvaartowerheid het intussen gewaarsku dat binnelandse vlugte moontlik verminder kan word weens potensiële brandstoftekorte.
Staatsmedia berig egter dat daar genoeg olie en gas vir plaaslike verbruik sal wees tot einde April.
LEES OOK: Só raak die prysstygings jou sak
’n Inwoner van Hanoi het Vrydag gesê die hoër brandstofpryse het verkeer op die gewoonlik besige paaie laat afneem.
“Ek dink baie mense kan nie meer hierdie aanhoudende stygings in brandstofkoste bekostig nie, soos ek,” sê die kantoorwerker Minh Anh, wat per trein werk toe gereis het.
“Gewone mense soos ek is uiteindelik diegene wat die swaarste dra aan hierdie brandstofkrisis.”
In die naburige Laos is skole Donderdag opdrag gegee om hul skoolweek vanaf volgende week tot drie dae te verkort weens brandstoftekorte en stygende pryse wat vervoer en daaglikse lewe ontwrig.
Die besluit is egter laat Vrydag omgekeer en die vyfdag-skoolweek herstel.
In Mianmar het brandstofpryse tussen Donderdag en Vrydag met sowat 30% gestyg, terwyl joernaliste van AFP lang rye voertuie by vulstasies naby Mandalay gesien het.
Ook in Thailand het brandstofpryse dié week gestyg nadat die regering Woensdag hoër dieselpryse aangekondig het.
– AFP
