Sedert die ondergrondse modderstorting op 17 Februarie vanjaar, het reddingspanne verwoed by die Ekapa-myn in Kimberley vir vyf vermiste mynwerkers gesoek.
Nou, meer as ’n maand ná die tragedie plaasgevind het, is die laaste van die vyf lyke in die vroeë oggendure van Maandag, 23 Maart, gevind.
Die eerste liggaam is reeds 9 Maart opgespoor, maar die volgende twee lyke kon eers op Sondag, 22 Maart, gevind word. Die laaste twee lyke is ure daarna, omstreeks 02:00 die oggend gevind.
NovaNews het vroeër berig dat die Noord-Kaapse regering aan elke gesin van die vyf vermiste mynwerkers R10 000 sal skenk.
Die Du Toitspan-myn in Kimberley is reeds sedert 25 Februarie amptelik gesluit. Volgens NovaNews het Jahn Hohne, uitvoerende hoof van Ekapa Resources en Ekapa Minerals, ook aangekondig dat hulle die maatskappy gaan laat likwideer.
Kolonel Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, sê geregtelike doodsondersoeke vind na aanleiding hiervan plaas.
Die Noord-Kaapse polisiekommissaris, luitenant-generaal Koliswa Otola, het haar innige meegevoel met die families en kollegas van die mynwerkers, wat hul lewe in hierdie tragiese voorval verloor het, uitgespreek.
Otola het die reddingspanne en ondersteuningspersoneel geprys vir hul onvermoeide pogings in gevaarlike omstandighede om te verseker dat die mynwerkers gevind word.
’n Onvoorspelbare en massiewe modderstorting in middel Februarie het die vyf mynwerkers op ’n diepte van sowat 890 meter vasgekeer. Dit is onder meer veroorsaak deur rotse wat weens reënwater verweer het en as ’n gewelddadige stroom modder in die tonnels ingestroom het.
