Te danke aan Amerikaanse president Donald Trump is “tariewe” een van die woorde wat ekonome die meeste gebruik het in 2025.
Hoe invoere en uitvoere presies werk en wie uiteindelik vir tariewe betaal wat op ’n sekere land se uitvoere geplaas word, het ’n groot gesprekspunt op sosiale media en in die nuussiklus geword.
Sodoende het Suid-Afrika se besluit om ferm standpunt in te neem teen die instroming van laekoste-staal uit China en Thailand opslae gemaak.
Invoerheffings van tot byna 75% op Chinese strukturele staal en sowat 20% op Thaise produkte is onlangs ingestel.
Die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) het bevind dat staal uit dié twee lande teen pryse onder markwaarde ingevoer is. Dít benadeel natuurlik plaaslike vervaardigers.
Dié praktyk word “dumping” genoem en word dikwels gedoen om markaandeel te wen.
Volgens Business Insider SA meen kenners dat hierdie ingryping plaaslike maatskappye in staat sal stel om billik mee te ding, terwyl dit ook die langtermyn-duursaamheid van staal wat in konstruksieprojekte gebruik word, sal versterk.
Die nuwe heffings is vir vyf jaar ingestel en sal poog om die plaaslike staalbedryf teen onregverdig goedkoop invoere te beskerm.
Dit als kom terwyl die regering en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) met ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) om sy staalbesigheid te red, ná aanlegsluitings verlede jaar tot 3 500 werksgeleenthede in gevaar gestel het.
In 2024 is China en Thailand onderskeidelik met net meer as 50% en 9% belas.
Sowat 36% van Suid-Afrika se totale staalverbruik, waarvan 73% uit China kom, sal nou meer gematig met plaaslike produsente kan kompeteer om ’n meer volhoubare toekoms vir die staalbedryf te verseker.
