Terwyl die Demokratiese Alliansie hard werk om hul kandidate in plek en gereed te kry vir die munisipale verkiesing later vanjaar, veroorsaak interne gevegte en nuwe beskuldigings dat hul beeld omtrent elke maand skade ly.
Die nuutste is ’n vertroulike dokument wat deur Dion George, voormalige minister en die party se hoof van finansies, op 20 Desember verlede jaar geteken is.
In dié dokument, wat Die Papier onder oë gehad het, word verskeie DA-leiers gelys wat spesiale salarisaanvullings ontvang het. Die DA swyg egter nog oor enige van die aantygings.
Volgens EWN word daar onthul dat die party meer as R60 000 betaal per maand betaal het om hul Tshwane-burgemeesterkandidaat, Cilliers Brink, in die stad te hou
Onder die ander name is John Steenhuisen en die adjunkminister van finansies, Ashor Sarupen en LP Mathew Cuthbert.
Volgens EWN het Brink ’n maandelikse salaris van meer as R100 000 verdien voordat hy in September 2024 deur ’n mosie van wantroue as die burgemeester verwyder is. Die bedrag van meer as R60 000 per maand is bykomend tot wat hy reeds as ’n gewone raadslid verdien.
Midde-in al dié drama is Steenhuisen ook onder die loep vir onder meer ’n kleretoelaag. Dit volg nadat hy gereeld die dagblaaie aan die begin van 2026 gehaal het a.g.v. sy spandabelrigheid met ’n partykredietkaart.
Volgens Business Day beloop die totale jaarlikse aanvullings meer as R3,6 miljoen. Steenhuisen se aandeel hierin is ’n ekstra byna R40 000 per maand, wat sy reeds hoë salaris as kabinetslid glo tot die van die adjunkpresident verhoog.
George is nie meer die party se hoof van finansies nie en dié twee sit al lankal nie meer om dieselfde vuur nie. Hul verskille oor Steenhuisen se uitgawes en breër finansiële beheer binne die party het groot opskudding veroorsaak.
Hoewel Steenhuisen deur interne prosesse vrygespreek is, het die dispuut verdeeldheid in die party veroorsaak en bygedra tot George se vertrek uit sy leiersrol.
