Die Suid-Afriaanse polisiediens (SAPD) het Woensdag rubberkoeëls en traangas gebruik om honderde betogers in Durban uitmekaar te jaag.
Die betoging, georganiseer deur politieke partye en die xenofobiese vigilante-beweging Operation Dudula, het strenger optrede teen ongedokumenteerde buitelandse burgers geëis.
Polisie het aanvanklik die betogers van die Durbanse promenade weggehou, wat volgens hulle wemel van dwelmhandelaars en onwettige aktiwiteite. ’n Klein groepie het egter weggebreek en mense begin teister en winkels geplunder, wat polisie genoop het om geweld te gebruik.
Sommige winkeleienaars moes hul besighede vooraf sluit om die ergste vry te spring.
LEES | Police fire rubber bullets as housing eviction sparks violent clashes
ActionSA-leier, Herman Mashaba, wat al vir jare sterker immigrasiebeheer aanhang, het betogers by die geleentheid toegespreek.
“Mense kan ons name noem, maar ons kan nie toelaat dat ons land voor ons oë vernietig word nie,” het Mashaba gesê. “Ons sien hoe ons regering toelaat dat ons land oorstroom word deur groepe van regoor die wêreld, so ver as Pakistan, Bangladesj, Nigerië, Mexiko – van oral. Daarom sê ons vir ons regering dit is onaanvaarbaar.”
Suid-Afrika het al oor die jare talle vlae van hernude anti-buitelander-sentiment beleef, wat dan dikwels in gewelddadige en soms dodelike aanvalle op immigrante ontaard.
Dit blyk steeds ’n groot brandpunt te wees vir die komende plaaslike verkiesings.
