Adv. Gerrie Nel (ook bekend as die Bulhond) vertel in Die Papier se hoofberig wat hy alles beplan om toe te sien dat Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, vir beweerde korrupsie aan die pen ry. Indien die nasionale vervolgingsgesag (NVG) volhou om Mbalula nie te vervolg nie, oorweeg hy dit om die hof te nader vir ’n wysiging aan die Strafproseswet, wat private vervolging vir korrupsie sal vergemaklik.

In nog ’n eksklusiewe storie, dié keer oor rugby, word vir die eerste keer ooit onthul hoe rugbyskeidsregter se “rapporte” lyk. Rugby-ondersteuners is meermale rooi onder die kraag oor wat hulle sien was verkeerde beslissings teen hul span. Die eens self vermaarde skeidsregter en nou hoofwedstrydbeampte van die Verenigde Rugbykampioenskap (VKR), Tappe Henning, neem lesers in sy vertroue in ’n gesprek met die bekende rugbyontleder en kommentator, Hennie Koortzen. Hy verduidelik stap vir stap waarop hulle beoordeel word.
Met die skok dat Suid-Afrika se polisiehoof, Fannie Mosemola, nou ’n misdaadverdagte is, fokus Vrydag se uitgawe van Die Papier ook op nuwe vrese oor die skietdood van Chinette Gallichan, die Johannesburgse prokureur en hoe die polisie struikel oor ’n gebrek aan veiligheid op die Kaapse N2-snelweg. Die Madlanga-kommissie se impak, wat gekom het om te bly in ons land, word ook bekyk.


Die bekende welvaartbetuurder Hein Kruger ontleed hoe die Iranse oorlog jou sak gaan ruk en ’n internasionale kenner verklaar dat Iran nou die inisiatief in die oorlog “beheer”. Ons berig ook oor vrae oor die Vrystaatse provinsiale begroting, harde besluite wat op die nuwe DA-leierskap wag en ’n DA-minister verduidelik waarom die RNE volgens hom “goed werk”. Ook oor die drama agter die skerms by die Ekapa-diamantmyn se reddingspogings.
Na aanleiding van ’n vorige berig in die koerant word daar uit Gen Z-geledere teruggekap onder die opskrif: “Ons is nie dom nie.” En in Dink word ontleed waarom jongmense nie stem nie.


Dit is weer ’n groot sportnaweek en in die koerant en op die webwerf verskyn die volledige TV-sportgids. Lees alles oor die groot Noord Suid-skolerugbytoernooi en wat elke van die land groot rugbyspanne – Die Stormers, Sharks, Bulle en Leeus – se oorblywende roetes na die VKR-uitspeelwedstryde is.

In ’n groot aanwins vir Die Papier skryf die aanlynrugbysensasie “Oom Rugby” ook nou vir ons. Lees ’n uittreksel van sy jongste ontledings in die koerant en kry sy volledige rubriek met verduidelikende foto’s eerste ding Vrydagoggend hier op die webwerf.


Nog interessanthede in die volgepakte uitgawe sluit in:
- Hoekom is die beroemde (of is dit berugte?) Britse muurskilder Banksy se identitiet deur ’n nuusorganisasie onthul? Het dit die romantiek rondom hom vernietig en was dit nodig?
- Die Agulhas-vleilande is nou ’n Wêrelderfenisgebied.
- Sanger André Schwartz skryf vir ons oor vrese agter die skerms.
En sjef Marlene van der Westhuizen deel in die week se resep “die geheim van beesfillet” met lesers.
- Die jongste uitgawe van Die Papier, sal Vrydag, 27 Maart, op die rakke wees.
- Huisaflewering is ook beskikbaar deur Op the Dot te e-pos by diepapierintekening@onthedot.co.za of te bel by 087 353 2191.
- ’n Elektroniese koerant kan ook gekoop word by op diepapier.co.za of by Magzter.
