Goeie skopwerk wen wedstryde. Nie net om akkuraat pale toe te korrel nie, maar ook hoe jy takties jouself in goeie posisies in speel en die teenstanders se verdedigingslinies deurmekaar skop.
Ongelukkig het die Stormers vir die meerderheid van hul wedstryd teen Edinburgh hulself met beide hul taktiese skoppe en strafskoppe pale toe gepootjie. Skakelpaar Stefan Ungerer en Sasha Feinberg-Mgomezulu was die groot sondebokke.
Strafskoppe pale én kantlyn toe is gemis, skoppe wat vlak moes wees was te diep en dié wat weer verder moes trek het die teenoorgestelde gedoen.
Ja, die Stormers het by verre die meeste balbesit geniet en dít in die regte deel van die veld, maar hulle het hul eie lynstane verloor, aangeslaan en balle net skoon weggegooi by tye.
LEES | KickOff.com se volledige verslae van al die plaaslike spanne se VRK-wedstryde
Die halftyd-telling was 7-7, met die Stormers wat veel verder moes voorloop met al die momentum wat hulle gehad het. Boonop het Edinburgh se enigste punte van ’n onderskep-drie gekom.
Wat was dan uiteindelik die verskil wat die Stormers die vleiende eindtelling van 33-14 gegee het? Die plaasvervangers.
Spelers soos stut Neethling Fouché, losskakel Jurie Matthee en flank Deon Fourie het onder dié spelers getel wat uiteindelik ’n baie moeë Edinburgh-span laat les opsê het.
Evan Roos was die speler van die wedstryd en hoewel dit ’n morsige affêre vir die Stormers was, het hulle steeds met ’n bonuspunt gewen. Maar as hulle dié wedstryd verloor het, sou hulle hulself kon skop.
