Kompleet met pienk swemkeps, groot heldergeel swembril en duikpak oefen DA se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, Helen Zille, in ’n massiewe modderpoel “slaggat-swembad” in Douglasdale.
Die video, waarin sy sterk klem op swak dienslewering en agterlosigheid lê, is al amper twee miljoen keer altesame op Instagram, Facebook en TikTok gekyk.
Sy begin die video met haar kop onder die water en noem die massiewe gat ’n “snorkelswembad”. Sy oefen haar rugslag en soek visse in die gat, wat volgens haar al meer as drie jaar bestaan.
Dis duidelik die video het groot opslae onder mense gemaak, en selfs ’n paar bekendes saam laat gesels.
“Mal hieroor. Geluk! Hierdie kan nie vergeet word nie,” het sanger Bobby van Jaarsveld gesê. “[Jou] veldtogbestuurder kort ’n verhoging,” het aanbieder Minnie Dlamini laat hoor.
Aanbieder en omroeper Roxy Burger wou spottenderwys weet watter rooi lipstiffie Zille aan het, want dat dit só mooi kan aanbly, selfs in die vuil water, is “indrukwekkend”.
“Dié moenie snaaks wees nie, maar as ons nie lag nie, huil ons,” het een persoon op Instagram geskryf. “So waar,” het Zille geantwoord.
Of ’n mens nou dink dit is goedkoop politiekery of vlymskerp satire, die video het sy doel bereik deur mense opnuut oor die krake in veral Johannesburg se dienslewering te praat.
En boonop kan mens net giggel vir die 75-jarige “Gogo” Helen wat haar swem- én kwinkslae oefen voor die munisipale verkiesing later vanjaar.
