Trump-administrasie gee nóg senior amptenare die trekpas, insluitend hoof van weermag

Pete Hegseth, Amerikaanse minister van oorlog. Foto: AFP
Pete Hegseth, Amerikaanse minister van oorlog. Foto: AFP

Pete Hegseth, die Amerikaanse minister van oorlog, het die weermag se stafhoof, genl. Randy George, wie se militêre loopbaan oor vier dekades strek, en twee ander senior amptenare gevra om te bedank.

Hegseth se besluit om George te verwyder is die jongste in ’n reeks hoëprofiel-vertrekke uit die Amerikaanse weermag sedert pres. Donald Trump sowat ’n jaar gelede weer aan bewind gekom het.

Min besonderhede is oor die afdanking bekend gemaak.

George, ’n hoogs gedekoreerde veteraan, het die weermag gelei gedurende ’n tyd waarin die Amerika reeds langer as ’n maand lank ’n intense bombardementveldtog teen Iran voer—’n veldtog wat volgens Trump nog weke kan voortduur.

Sean Parnell, ’n woordvoerder van die Pentagon, het laat Donderdagaand op X gesê George “tree met onmiddellike effek uit sy pos af”.

George se militêre loopbaan strek oor byna vier dekades, waartydens hy verskeie ontplooiings na Irak en Afghanistan gehad het.

Hy het ook gedien as onderhoof van die weermag en as senior militêre assistent vir Lloyd Austin, die destydse minister van verdediging, tydens die presidentskap van Joe Biden.

Randy George Foto: AFP
 Genl. Randy George Foto: AFP

Volgens berigte sal die onderhoof van die weermag, Christopher LaNeve, voorlopig as waarnemende hoof oorneem.

Hegseth het hom vroeër beskryf as ’n “beproefde leier met dekades se operasionele ervaring”.

Suiwering in geledere

’n Amptenaar het bevestig dat David Hodne en William Green Jr. saam met George uit hul poste verwyder is. Hodne het die weermag se transformasie- en opleidingsbevel gelei, terwyl Green aan die hoof van die Kapelaansdiens was.

Trump het sedert sy terugkeer na die Withuis ’n omvattende suiwering van senior militêre leiers geloods.

Dit sluit in die afdanking van die voorsitter van die Gesamentlike Stafhoofde, Charles Q. Brown Jr., sonder enige verduideliking kort ná sy aanstelling in Februarie 2025.

Ander senior amptenare wat die trekpas gekry het, sluit in die hoofde van die vloot en kuswag, die leier van die Nasionale Veiligheidsagentskap, die onderhoof van die lugmag, ’n vlootadmiraal by NAVO, asook drie senior militêre regskenners.

Pam Bondi, die minister van justisie, is ook Donderdag deur Trump afgedank. Hy het toe sy voormalige persoonlike prokureur aangewys om in haar plek waar te neem.

Hoewel Hegseth volhou die president kies bloot sy eie leiers, waarsku Demokratiese wetgewers dat die toenemende ingryping die tradisioneel neutrale aard van die Amerikaanse weermag kan politiseer.

AFP


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie