DignitySA hof toe oor mediese bystanddood

DignitySA wil hê bystanddood moet dekriminaliseer en wettig gemaak word.
DignitySA wil hê bystanddood moet dekriminaliseer en wettig gemaak word. Foto: Unsplash.

DignitySA het hierdie week ʼn aansoek by die Noord-Gautengse Hooggeregshof ingedien om mediese bystanddood te dekriminaliseer en te wettig.

Dit is tans nog onwettig vir Suid-Afrikaanse medici om ʼn pasiënt te help om te sterf. DignitySA wil hierdie verbod ongrondwetlik en ongeldig laat verklaar.

Die hofaansoek volg ná 15 jaar se voorspraak vir Suid-Afrikaners se reg om ‘n waardige einde te kies wanneer hulle ongeneeslike en ondraaglike lyding in die gesig staar.

Die aansoek is gebaseer op wat DignitySA “fundamentele regte” noem.

Dit sluit die reg op waardigheid, vryheid van keuse, die reg op lewe en die reg om self te besluit oor jou eie liggaam, in. Al hierdie regte word verskans in Suid-Afrika se grondwet.

DignitySA is ʼn nie-winsgewende organisasie wat in 2011 gestig is deur die bystanddood-aktivis Sean Davison en Willem Landman.

Landman is ʼn afgetrede akademikus, wat onder andere mediese etiek gedoseer het, en tans die voorsitter is.

Willem Landman, Sean Davison en Chris Jones by die Woordfees in 2022.
Willem Landman, Sean Davison en Chris Jones by die Woordfees in 2022. Foto: Facebook.

‘Dis hoekom die wet moet verander’

Die organisasie definieer bystanddood as ʼn proses waartydens ’n pasiënt óf self medikasie neem (of toedien) om te sterf, óf gehelp word deur ’n dokter wat dit toedien.

“Ons Grondwet kyk met deernis na diegene wat ʼn verskriklike dood in die gesig staar, maar ons huidige regstradisie beskerm nie hul waardigheid nie,” sê Landman. “Ons vra die hof om te erken dat ’n persoon se waardigheid ernstig aangetas word wanneer hulle geen beheer het oor die manier waarop hulle sterf nie.”

DignitySA sê enige iemand wat ’n versoek vir mediese bystanddood rig, sal aan streng vereistes moet voldoen. Dit sluit in dat die persoon geestelik bevoeg moet wees, aan ʼn ongeneeslike, onomkeerbare toestand moet ly, en uit vrye wil ʼn versoek moet rig om te sterf.

Hulle benadruk dat mediese bystanddood ‘n noodsaaklike komponent is van palliatiewe sorg.

“Alhoewel ons ten gunste is van die uitbreiding van hoëgehalte-palliatiewe sorg, kan dit nie altyd die allesverterende lyding wat sommige pasiënte verduur, versag nie,” verduidelik DignitySA se woordvoerder, Vuya Ilengou.

Die organisasie beywer hom ook vir goeie gesondheidsorgpraktyke en wetlike regte tydens palliatiewe sorg, pasiënte se reg om behandeling te weier en lewende testamente.

https://www.youtube.com/watch?v=rc8vxTYOkHY

Dis waaroor hof moet besluit

Die organisasie doen ʼn beroep op die hof om die algemene verbod op mediese bystanddood ongrondwetlik en ongeldig te verklaar. Hulle vra ook dat die hof die Parlement moet beveel om binne 24 maande gepaste wetgewing oor die kwessie deur te voer.

Om te verhoed dat die wetlike leemte misbruik word wat mag ontstaan as die hof wel die verbod ophef, word die hof ook gevra om in so geval die uitspraak vir 24 maande op te skort terwyl nuwe wetgewing opgestel word.

DignitySA het deur die jare talle terminale siek pasiënte bygestaan.

Die hofaansoek geniet die steun van prominente medici – plaaslik en internasionaal – wat aanvoer dat die verantwoordelike toepassing van bystanddood, ooreenstem met die kernbeginsels van mediese etiek.

Mario Oriani-Ambrosini.
Mario Oriani-Ambrosini. Foto: Alchetron.

Gevallestudies toon lyding

Die hofdokumente van byna 1 000 bladsye sluit ook gevallestudies in van 11 mense wat mediese bystanddood versoek het, maar dit ontneem is.

Onder hulle is wyle dr. Mario Oriani-Ambrosini, die bekende parlementslid, wat selfdood gepleeg het deur homself te skiet. Oriani-Ambrosini het fase 4-longkanker gehad.

Nog ʼn naam wat lesers sal herken, is die van Carol de Swardt, wat uiteindelik gekies het om Switserland toe te gaan vir mediese bystanddood. De Swardt was in ʼn rolstoel nadat haar been geamputeer is weens oormatige bestraling in ʼn staatshospitaal nadat sy met verspreide velkanker gediagnoseer is.

Ná ʼn regstryd van agt jaar en weens pyn en lyding wou sy nie meer verder leef nie.

DignitySA sê hierdie mense se verhale illustreer die “gedwonge lyding” wat deur die huidige wet veroorsaak word.

Die organisasie beklemtoon dat die hofaansoek gebring word in belang van alle Suid-Afrikaners se “laaste reg”.

  • Lees meer oor DignitySA hier.
  • Lees Ilse Salzwedel se onderhoud met Willem Landman oor hierdie kwessie in Die Papier wat môre op die rakke is.

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie