Vyf kinders is onlangs uit haglike omstandighede gered nadat ernstige bewerings van verwaarlosing en gesinsgeweld aan die lig gekom het.
Dié kinders, tussen een en 12 jaar oud, is uit hul ouerhuis verwyder waar hulle van kleins af aan dwelmmisbruik blootgestel is.
Volgens Adrie van Staden, uitvoerende hoof van Die Kinderfonds, was die kinders teenwoordig wanneer dwelms gekoop en gebruik is.
“Die twee oudste kinders het die afgelope twee jaar nie skool bygewoon nie, wat hulle aan beduidende opvoedkundige en ontwikkelingsrisiko’s blootgestel het,” sê sy.
Rata Maatskaplike Dienste, wat in provinsies soos Gauteng, Noordwes en Limpopo werk, het ingegryp en die kinders verwyder. Rata fokus op die beskerming van kinders teen mishandeling, asook om gesinne deur doelgerigte programme te versterk.
Nicolene Cordier van Rata sê die kinders is intussen in pleegsorg geplaas, waar hulle nou die stabiliteit en sorg kry wat hulle nodig het. Die ouer kinders is geassesseer en gaan nou weer skool. Hulle neem ook aan sport deel en vaar volgens terugvoering van die skool uitstekend.
“Sonder die ondersteuning van Die Kinderfonds sou hierdie kinders steeds gewag het op staatsassesserings en moontlik nog ’n jaar van hul skoolopleiding verloor het,” sê Cordier.
Van Staden sê hoewel fisieke tekens van trauma dikwels sigbaar is, is emosionele mishandeling moeiliker om te identifiseer. “Daarom is professionele assessering van deurslaggewende belang om ’n kind se werklike emosionele welstand te bepaal,” sê Van Staden.
Met ondersteuning van Die Kinderfonds bied Rata gespesialiseerde assesserings- en terapeutiese dienste wat aangepas word volgens elke kind se unieke behoeftes.
Hierdie dienste is daarop gemik om emosionele genesing te bevorder en ’n gevoel van veiligheid en normaliteit te vestig.
“Hierdie assesserings gee ’n stem aan kinders wat nie altyd hul trauma in woorde kan uitdruk nie,” voeg Van Staden by. “Dit verseker dat hul ervarings behoorlik verstaan en aangespreek word.”
Vordering word noukeurig gemonitor deur terapeute se verslae, sowel as terugvoering van pleegouers en skole.
Volgens Van Staden is daar reeds verbetering in die kinders se gedrag en algemene funksionering.
“Die Kinderfonds ondersteun Rata en ander maatskaplike diensorganisasies om kinders in nood by te staan.”
- Donasies kan inbetaal word by Absa, rekeningnommer 2840157329. Gebruik jou selfoonnommer en naam as verwysing.
- Bydraes is belastingaftrekbaar.
- Rig navrae aan Adrie van Staden by 061 479 4791.
