Die Stormers-ondersteuners is waarskynlik in sak en as ná hulle nederlaag verlede naweek teen Toulon. Een of twee opspraakwekkende goed het gelei tot heelwat debat ná die tyd, wat my laat dink het ons moet dit bietjie van naderby bekyk, en ook praat oor risiko en beloning in hedendaagse rugby.
Kom ons kyk heel eerste na daardie oomblik wat ’n hele klomp mense woedend – en swetsend – laat opspring het. Met net 8 minute speeltyd oor, het die Stormers die skroewe vir Toulon begin vasdraai met ’n losgemaal reg op die vyfmeterlyn.
Dan breek die Stormers deur, en daar is net twee of drie verdedigers tussen hulle en die doellyn. Maar dis amper soos die keer toe my swaer probeer keer het dat sy boot se sleepwa teen die sleephelling afgly nadat hy vergeet het om dit aan sy bakkie te haak. Dit gaan eenvoudig nie gebeur nie.

Die Stormers se losgemaal is feitlik onbetwis en beweeg vinnig, maar dan word dit doelbewus afgetrek deur die slot Halagahu.
En die besluit? ’n Geel kaart, maar geen strafdrie nie.
Dit was ’n baie swak beslissing. Vir my was dit die definisie van ’n strafdrie vir die aftrek van ’n losgemaal. Trouens, Wêreldrugby kan ’n videogreep van hierdie oomblik gebruik om skeidsregters op te lei oor hoe ’n strafdrie lyk.

Party situasies op ’n rugbyveld sal altyd aan die skeidsregter se interpretasie oorgelaat word, maar die Stormers het nie daarop gereken dat die skeidsregter ’n risikofaktor sal wees nie. Want losgemaal-oortredings is gewoonlik duidelik, veral met sulke blatante vuilspel terwyl die skeidsregter boonop reg by dit staan.
Waarom het hy nie die strafskop probeer gee nie? Ek vermoed die oomblik was te groot vir hom.
Die Stormers het alles reg gedoen en die risiko goed gespeel, maar is in die steek gelaat deur iets onverwags en buite hul beheer.
Die volgende kontroversiële oomblik is reg aan die einde van die wedstryd. Die Stormers het intussen ’n doel aangeteken, en daar is nou net een punt verskil. ’n Drie sal die wedstryd beklink.
Toulon het net 13 spelers op die veld, so die Stormers speel veilig en behou besit. Hulle weet hulle kan Toulon onder druk hou, en dis presies wat hulle doen.
Van ’n lynstaan op die 22 m speel hulle 16 fases tot reg by Toulon se doellyn – net een meter weg van glorie en oorwinning . . .

Die twee ouens om dop te hou, is die Stormers-slot Adré Smith en die Franse flank Charles Ollivon.
Smith is op die punt om te om doellyn toe te pyl, en Ollivon wag vir hom.
Maar Ollivon is nie op sy voete nie. Hy op een knie, reg op die doellyn. Wanneer Smith doellyn toe aanval, duik Ollivon hom vanuit daardie knielende posisie, sonder om ooit op sy voete te kom.
Hy absorbeer bloot die impak en val Smith toe, wat dit moeilik maak om duidelik te sien of die bal wel gedruk is.

Die skeidsregter en TV-skeidsregter sien geen duidelike bewyse van ’n drie wat aangeteken is nie, en dus word die bal beskou as “opgehou”. En so eindig die wedstryd.
Natuurlik lei dit tot baie woede.
Eerstens, omdat dit gelyk het of Ollivon nie op sy voete was toe hy die duikslag gemaak het nie, en tweedens, omdat die Stormers nie ’n ander opsie oorweeg het nie, soos om ’n skepskop te probeer of die bal wyer te speel na die agterlyn nie.
Kom ons bekyk hierdie kwessies een vir een.
Ongelukkig het Ollivon 100% binne die reëls opgetree. Reël 21.12 sê vir ons dat, as enige deel van ’n verdedigende speler in die doelgebied is, daardie speler as in die doelgebied beskou word. Daarom is Ollivon in die doelgebied.
Dan sê reël 13.3 vir ons dat die doelgebied nie as deel van die speelveld beskou word nie. Dus geld normale duikslagreëls (soos om op jou voete te wees om ’n duikslag te maak) nie hier nie.
Wanneer kontak gemaak word in die doelgebied, word dit nie as ’n duikslag beskou nie, maar eerder as “’n poging om die aanvaller vas te hou en te keer dat hy punte aanteken”.
Jy mag dus ’n poging om ’n drie aan te teken, absorbeer (Engels was soak up) en onder die bal kom, selfs al is jy nie op jou voete nie.
Mense is kwaad dat die Stormers nie vir ’n skepskop gegaan het of die bal wyer gespeel het nie, maar dis te verstane nadat hulle pas 16 fases gespeel het om tot op die doellyn te kom.
Hulle kon aanvoel hulle oorheers 13 moeë spelers, en het dus gehou by wat gewerk het. Wye aangeë en skepskoppe is nie sonder risiko nie, en sukses is nie gewaarborg nie.
Maar hier lê die knoop . . . ons sien meer en meer spelers wat oor die lyn opgehou word.
Trouens, in hierdie wedstryd het ons drie ander gevalle gesien waar die bal vasgehou is terwyl iemand probeer om punte aan te teken.
Reëlveranderinge in 2022 het verdedigende spanne toegelaat om met ’n skepskop uit hul doelgebied te kom as hulle die bal in die doelgebied kon ophou. Daarom is daar nou sterk aansporing om daardie uitkoms af te dwing.
Spelers oefen deesdae al die klein truuks wat jy nodig het om aanvallers te absorbeer, te keer dat die bal gedruk word en om te verhoed dat die TV-skeidsregter die bal behoorlik kan sien.
Wat met die Stormers gebeur het, was nie net slegte geluk nie.
En dit laat mens wonder – as verdedigers afgerig word om so te speel, en as die doelgebied hulle volgens die reëls ’n tegniese voordeel gee, sien ons genoeg reaksie deur moderne aanvallende spel as dit daaroor gaan om die bal oor die doellyn te kry?
Benader spelers hierdie situasies anders genoeg as elders op die veld? Ek sien deesdae heeltemal te veel spelers wat opgehou word om te dink dat dit die geval is.
Die werklike pyn vir die Stormers is dat hulle weet hulle het die drie gedruk. As jy die beeldmateriaal van naderby bekyk, kan jy dit self sien.
Maar in hedendaagse rugby is ’n kykie nie genoeg nie – jy moet dit op ’n silwer skinkbord aanbied en alle twyfel uit die weg ruim.
Deesdae is om een meter weg te wees dieselfde as twintig meter weg. Ons het nog baie werk om te doen om verdedigers, skeidsregters en alle risiko uit die vergelyking te haal.
- Kry al jou rugbynuus in Die Papier, op NovaNews en op KickOff.com.
