Koue, nat toestande kan tot Maandag voortduur

’n Kouefront sorg die naweek vir nat en winderige toestande oor groot dele van die Wes-Kaap. Foto: Unsplash
’n Kouefront sorg die naweek vir nat en winderige toestande oor groot dele van die Wes-Kaap. Foto: Unsplash

Die koue, nat toestande weens ’n kouefront wat tans oor verskeie dele van die land ervaar word, sal na verwagting tot Maandag duur.

Die kouefront bring wydverspreide reën, sterk winde en merkbaar laer temperature oor veral die Wes-Kaap.

In die Wes-Kaap het die stelsel reeds oor die suidwestelike dele ingetrek en sal na verwagting stadig ooswaarts beweeg, met aanhoudende reënval oor die naweek.

Die Suid-Afrikaanse weerdiens het vandeesweek ’n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vir skadelike wind en ruwe see-toestande met deinings van tussen 4 m en 5 m langs die kus tussen Kaap Columbine en Plettenbergbaai van Saterdagaand tot Maandag.

Daarbenewens geld ’n geel vlak 1-waarskuwing vir sterk binnelandse winde oor dele van die Kaapse Wynlande, asook die munisipaliteite van Laingsburg en Beaufort-Wes.

Vir Sondag word ’n 80%-kans op reën voorspel in Kaapstad, Malmesbury, Langebaan, Hermanus en Grabouw, met ’n 60%-kans in die Paarl, Worcester, Ceres, Redelinghuys en Kaap Agulhas.

Oor die res van die provinsie bly die kans op reën laer, maar steeds moontlik.

Die weerdiens waarsku dat nat paaie, swak sigbaarheid en moontlike plaaslike oorstromings bestuurstoestande kan bemoeilik.

Inwoners word aangeraai om versigtig te wees, veral langs kusgebiede waar sterk winde en hoë golwe gevaarlik kan wees.

Die Wes-Kaap het Vrydag sy eerste sneeu vir die jaar op die Matroosberg naby Ceres ervaar.

Groot haelkorrels het Vrydag in Kleinmond geval.

BINNELAND

’n Geel vlak 2-waarskuwing is ook vir Sondag oor dele van Gauteng, Limpopo en Mpumalanga uitgereik.

Die weerdiens waarsku oor erge donderstorms oor Gauteng, Limpopo en die Hoëveld wat tot vloede in laagliggende gebiede kan lei.

Dié waarskuwing en gepaardgaande weerstoestande geld ook vir dele van Noordwes en die Vrystaat.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie