Verblyf op Robbeneiland laat die tonge klap

Voormalige tronkbewaardershuise op Robbeneiland gaan opgegradeer word tot oornag-toeristeverblyf.
Voormalige tronkbewaardershuise op Robbeneiland gaan opgegradeer word tot oornag-toeristeverblyf. Foto: Getty Images.

Die voorgestelde plan om sowat 100 voormalige tronkbewaardershuise op Robbeneiland in oornag-toeristeverblyf te ontwikkel, het kommer op sosiale media laat ontstaan oor die beskerming van die terrein se historiese betekenis.

Dit sal besoekers in staat stel om oornag te bly eerder as om ná ’n paar uur na die vasteland terug te keer.

Robbeneiland is in 1999 as ’n Unesco-wêrelderfenisgebied verklaar weens sy diepgaande kulturele betekenis. Dit is veral bekend vir die maksimum-sekuriteitstronk waar Nelson Mandela 18 van sy 27 jaar in gevangenskap deurgebring het.

LEES | Sport sustained hope for prisoners op Robben Island

Dit is ook in die 19de eeu as ’n melaatskolonie gebruik en tydens die Tweede Wêreldoorlog as ’n basis deur die Britse weermag.

Die Robbeneiland-museum oorweeg dit om die huise in oornagverblyf te omskakel, met een huis wat tans as ’n loodsprojek dien. Ongeveer R70 miljoen is bewillig vir die opgradering en omskakeling van die geboue.

Nie alle erfenisbewaarders is egter teen die ambisieuse planne nie.

Duisende toeriste besoek Robbeneiland elke jaar.
Duisende toeriste besoek Robbeneiland elke jaar. Foto: Getty Images.

Die Durbanville-erfenisvereniging het aan die TygerBurger gesê hulle is nie gekant teen die restourasieprojek nie, “mits dit outentiek bly, die historiese tydperk bewaar en getrou bly aan die oorspronklike karakter van die eilandtronk”.

“Die voetspoor moet uniek bly aan die tyd en nie gekommersialiseer word nie. Verder moet die spesiale historiese en natuurlike karakter van die eiland en die geboue daarop beskerm word,” het Jaco Maritz, voorsitter, en Georina Westrat, ondervoorsitter van die Durbanville-erfenisvereniging, in ’n gesamentlike verklaring gesê.

“Volgens nuusberigte het die Robbeneiland-museum verseker dat die restourasie en omskakeling van die vervalle bewaardershuise nie die waarde van die gebied sal ondermyn nie en dat die balans tussen toerisme en die bewaring van historiese erfenis gehandhaaf sal word.

“Die doel is om ’n inkomste te genereer wat langtermyn finansiële volhoubaarheid sal verseker.”

Robbeneiland is ’n Unesco-wêrelderfenisgebied.
Robbeneiland is ’n Unesco-wêrelderfenisgebied. Foto: Facebook.

“Wanneer historiese geboue nie sinvol gebruik word nie, verval dit stelselmatig, en daar is baie voorbeelde hiervan. Die staat het eenvoudig nie die middele of soms die motivering om historiese geboue te bewaar nie.

“Sensitiewe ontwikkeling en gebruik is die enigste opsie wat langtermyn lewensvatbaarheid waarborg. Indien die projek korrek benader word, kan dit slaag.

“Ons wil egter die gedetailleerde planne sien voordat ’n mens kan sê of dit op die regte pad is. Daar behoort ’n deursigtige openbare deelnameproses te wees waar kundiges insette kan lewer,” lui die verklaring.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie