Hyself het lanklaas die groen-en-goud oor sy kop getrek. Bok-senter Lukhanyo Am het einde 2024 laas vir die Bokke gespeel, iets wat hy graag in 2026 sal wil verander.
Weens beserings in 2025 was Am onlangs nie deel van die Springbok-groepe nie, maar hy is wel weer opgeroep na die eerste belyningskamp van die jaar vir oorsese spelers.
“Ja, dit was ’n spesiale oomblik om weer die oproep te kry na die belyningskamp. Dit wys die afrigters hou ons nog dop hier oorkant,” het Am Maandag aan die media gesê.
Am speel deesdae in die Japanese klubliga vir die Mitsubishi Sagamihara Dynaboars.
“Dit was ook vir my ’n groot motivering om te weet ek is nog op die radar en dat die afrigters kyk na wat ek in Japan doen.
“Dit was regtig baie motiverend vir my.”
Am, ’n ervare Springbok met 42 toetswedstryde op sy kerfstok, is deur die joernaliste vir raad gevra vir die nuwelinge in die Bok-groep.
“Ek dink die beste raad wat ek vir ’n jong speler kan gee, is om gemaklik met hulself te wees binne die omgewing,” het Am gesê.
“Ek dink soms kan jong spelers maklik geïntimideer word deur hierdie ervare manne wat al baie toetse gespeel het.
LEES | JP Pietersen raises scrum concerns after Sharks fall short against Ospreys
“Dus moet ’n jong speler oopkop wees, bereid wees om te leer en te groei, maar ook hul eie energie en jeugdigheid na die span bring.
“Dit is die beste raad wat ek kan gee: Stap daar uit, moenie skaam wees nie, maak oop en dra by so goed as wat jy kan.”
Die Bokke se eerste wedstryd vir die jaar sal nes 2025 teen die Barbarians wees. Hulle sal op 20 Junie in Gqeberha kragte meet, ná Suid-Afrika ‘A’ teen Zimbabwe speel.
- Kry al jou rugbynuus in Die Papier, op NovaNews en op KickOff.com.
