Die Kinderfonds se groot skenkingsprojek begin vandag.
Deur ’n skenking aan Die Kinderfonds, wat meer as 20 liefdadigheidsorganisasies ondersteun en waarby meer as 6 500 kinders baat vind, is daar groot pryse op die spel.
Jy kan R200 000 of ’n splinternuwe Toyota Vitz wen.
“Al wat dit van jou verg, is ’n eenvoudige daad van omgee. Jy het die mag om ’n kind te laat lag,” sê Adrie van Staden, die uitvoerende hoof van Die Kinderfonds.
Die projek, in samewerking met Die Papier, RSG en Toyota Suid-Afrika, duur tot 7 November.
Dit is maklik om in te skryf, sê Van Staden. “Al wat jy moet doen, is om ’n R50-skenking aan Die Kinderfonds te gee.”
Elke R50-skenking tel as ’n inskrywing. Dit wil sê, as jy R200 skenk, het jy vier inskrywings. Vir elke R250 wat geskenk word, kry jy ’n gratis inskrywing. Dus sal jy ses inskrywings hê vir R250 in plaas van vyf.
Indien jy maandeliks tot November skenkings gee, sal jy outomaties vir die bonusprystrekking kwalifiseer. “Bonuspryse is hoofsaaklik ekstra geldpryse, byvoorbeeld R5 000 wat in ’n bepaalde maand gewen kan word,” sê Van Staden.
Deelnemers sal binne drie dae ’n SMS of WhatsApp-boodskap van Die Kinderfonds ontvang wat hul inskrywing bevestig. Wenners sal in Die Papier, op RSG asook op Die Kinderfonds se Facebook-blad aangekondig word en hulle sal ook telefonies gekontak word.
Die reëls van die kompetisie is op Die Kinderfonds se webtuiste beskikbaar. Rig navrae aan Die Kinderfonds by 061 479 4791.

Betaalopsies:
Jy kan enige van die volgende opsies vir jou skenking kies:
1. Elektroniese geldoorplasing:
Die Kinderfonds, Absa, tjekrekeningnommer 2840 157329, takkode 632005.
Verwysing: Jou selfoonnommer, naam en van (jou selfoonnommer moet eerste wees).
2. PayShap:
Hierdie funksie is op jou bankapp beskikbaar. Jy stuur jou betaling sonder ’n bankrekeningnommer en gebruik slegs die begunstigde se ShapID.
Die Kinderfonds se ShapID is 061 479 4791.
Verwysing: Jou selfoonnommer gevolg deur jou naam.
3. Debiet- en kredietbetalings:
Skandeer die QR-kode met jou bankapp.
Verwysing: Jou selfoonnommer, gevolg deur jou naam.
Jy kan ook SnapScan op jou foon en tablet aflaai vir ’n veilige kaartlose betaalmetode van Standard Bank. SnapScan sal vir jou instruksies gee om jou krediet- of debietkaart te koppel. Kies dan ’n wagwoord en skandeer die SnapScan QR-kode om jou skenking te stuur.
4. SMS:
“Neem kennis dat Die Kinderfonds sowat R16 per SMS ontvang, maar as dit die enigste manier is waarop jy kan skenk en deelneem, is ons dankbaar daarvoor,” sê Van Staden.
SMS “KINDERS” na 41511. SMS’e kos R30. Aangesien die inskrywingsfooi R50 per inskrywing is, moet jy minstens twee SMS’e stuur om vir die trekking in aanmerking geneem te word.
