Die F1-voorloper vir hierdie seisoen, Mercedes se Kimi Antonelli, het Saterdag seker gemaak dat hy eerste in die Miami Grand Prix sal wegspring. Wanneer dít Sondag sal gebeur, is egter drie ure vroeër geskuif weens swaar reënstorms wat verwag word.
Die 19-jarige Italianer, die jongste kampioenskapsleier in die geskiedenis van F1, het ’n laat aanslag van die voormalige kampioen Max Verstappen afgeweer in ’n gespanne kwalifiseringsessie.
Antonelli het die vinnigste ronde van 1:27.798 behaal om boaan te eindig, voor Red Bull se Verstappen, met Charles Leclerc derde vinnigste in sy Ferrari.
Wêreldkampioen Lando Norris, wat vroeër die dag die blitsren gewen het, sal Sondag van die vierde plek vir McLaren wegspring.
Dit is Antonelli se derde agtereenvolgende resies wat hy ’n eerste wegspringplek kon verseker, ’n prestasie wat hom langs groot voormalige kampioene Ayrton Senna en Michael Schumacher in die rekordboeke plaas.
Sy Mercedes-spanmaat George Russell was vyfde, voor die sewemalige kampioen Lewis Hamilton in die tweede Ferrari en Oscar Piastri, wat sewende was in die tweede McLaren.
“Dit was ’n ongelooflike dag vir my om weer eerste te wees,” het Antonelli gesê.
“Dit was natuurlik ’n moeilike blitsren vroeër vir my, maar ek is baie gelukkig met hierdie terugkeer. Ek het ’n bietjie te opgewonde geraak in daardie laaste ronde in Q3, maar my eerste ronde was goed genoeg.
“Ek was so gespanne omdat ek gewag het vir almal om hul rondes klaar te maak, maar dit was goed genoeg en nou, hopelik, sal ek môre ’n magiese wegspring hê.”
Die Miami Grand Prix sal om 13:00 plaaslike tyd (19:00 SA tyd) begin, eerder as 16:00, weens ’n voorspelling van uiterste weerstoestande, insluitend moontlike donderstorms, het beamptes op die vooraand van die wedren aangekondig.
“Hierdie besluit is geneem om die minste moontlike ontwrigting aan die wedren te verseker en om die maksimum moontlike tyd te skep om die Grand Prix onder die beste toestande te voltooi, en om die veiligheid van bestuurders, ondersteuners, spanne en personeel te prioritiseer.”
