‘Verdediging is enorm’: Junior Bok-kaptein Norton rig waarskuwing voor Australië-kragmeting

Die Junior Bokke in aksie teen Argentinië.
Die Junior Bokke in aksie teen Argentinië. Foto: X.

Die Junior Springbokke is vasberade om dit twee oorwinnings uit dieselfde aantal wedstryde te maak wanneer hulle teen Australië in die tweede ronde van die o.20-Rugbykampioenskap speel.

En kaptein Riley Norton weet dit gaan nie net oor aanval op die dag nie, en dat veral hul verdediging ook op peil moet wees.

Australië het in hul eerste wedstryd teen Nieu-Seeland verloor, maar gewys dat hulle bereid is om die bal van enige plek af te laat loop. Die Junior Bokke het Argentinië in hul eerste kragmeting 48-21 geklop.

Norton weet sy span sal die verdedigende aspek van hul spel Sondagmiddag moet bemeester.

“Ek dink verdediging is enorm,” het Norton vroeër die naweek by die bekendstelling van die span aan verslaggewers gesê.

“Ek dink al die spanne in hierdie kompetisie, die Suidelike Halfrond-spanne, is uitstekend in aanval.

“Soos afrigter [Kevin Foote] vroeër genoem het, het Australië spesifiek spelers wat uitstekend is met die bal. Hulle is baie vaardig.”

“Dus dink ek dit gaan Sondag neerkom op watter span opdaag met hul verdediging. En ons is trots op ons verdediging. Ek dink dit sê baie oor ’n span se karakter en wys die liefde vir mekaar.

“Dus is verdediging ’n groot deel van ons spelpatroon en iets waarop ons die afgelope week baie gefokus het om vir Australië voor te berei,” het Norton bygevoeg.

Nieu-Seeland speel Sondag 14:00 teen Argentinië en die Junior Bokke sal se wedstryd teen Australië skop om 16:10 af.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie