Departement skop vas oor handboeke

Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys.
Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys. Foto: Facebook.

In ’n uitdagende verklaring het die departement van basiese onderwys vasgeskop oor sy manier van toekenning van skoolhandboeke.

Dit kan volgens waarnemers die tafel berei vir ’n volskaalse twis met Siviwe Gwarube, die verantwoordelike minister en DA-lid, asook vir moontlike nuwe spanning tussen die ANC en DA in regering van nasionale eenheid (RNE).

Dit volg nadat Gwarube die omstrede toekenning en die produksie van handboeke vir gr. 1 tot 3 na die tesourie vir ondersoek verwys het. Die departement wat lang verduidelikings oor sy prosedures gee, swyg egter in die verklaring oor die toekenning van die meeste werk aan die onbekende Lighthouse Publishers wat uit die bloute midde-in die toekenningsproses gestig is.

Die departement wys daarop dat hy toestemming van die tesourie het om af te wyk van standaard tenderprosedures en sy handboekkatalogusse saamstel op grond van gehalte van die materiaal en prys in ’n katalogus.

Die departement wys ook daarop om ’n gevestigde uitgewer te wees, is geen kriteria om vir die toekenning vir handboeke in aanmerking te kom nie: “Die departement het nooit gekyk na die besonderhede van uitgewers of wanneer hulle gestig is nie, want dit is nie ’n kriteria vir die bepaling van gehalte wat ook blind gedoen word sonder dat keurders weet wie dit verskaf het.”

Volgens die departement, wat nie die inhoud van die verklaring aan ’n persoon toeskryf nie, is die proses duidelik ook oop vir onafhanklike uitgewers.

“Ons het selfs universiteite, taalrade, nie-regeringsorganisasies en ‘almal anders’ gehad wat voorleggings gedoen het.”

Die departement hou vol dat alle voorgeskrewe prosedures gevolg word, asook gehaltebeheer.

Een van die groter instansies wat ook van die toegekende gr. 1 tot 3 handboeke gekry het, het reeds vroeër aangedui dat regsoptrede oorweeg word wat deur formele regsbriewe aan die departement en tesourie vooraf gegaan kan word.

’n Bestuurlid van die uitgewer het egter gister daarop gewys dat die vereniging vir uitgewers, die Publishers Association of South Africa, lede gevra het om ter wille van die bedryf, nie in ’n onnodige openbare twis oor die kwessie betrokke raak nie. Die situasie word egter dopgehou.

Volgens Hannes Grobler, ’n onafhanklike ontwikkelaar van opvoedkundige materiaal, verstaan die departement duidelik nie watter geld, voorbereiding en strukture daarin gaan om handboeke te ontwikkel en te administreer vir uiteindelik lewering nie.

Deur sonder vooraf kennisgewing toekennings links en regs te verander vernietig besighede, werkgeleenthede en kritieke infrastruktuur in die private sektor. Daar is volgens hom baie vrae oor “kitsentiteite” se vermoë om die nodige gehalte te lewer teen pryse wat verdag laag is.

Vroeër het Roland Henwood, politieke wetenskaplike aan die Universiteit van Pretoria, daarop gewys dat Gwarube al voorheen in die openbare gekla het dat sy deur amptenare ondermyn word. Dit gaan toenemend uitdagings aan die DA-minister in die kabinet lewer.

’n Lid van die DA se federale raad het aan Die Papier gesê die party sal Gwarube ten volle ondersteun. Indien pres. Cyril Ramaphosa gaan toelaat dat Hubert Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van die onderwysdepartement, keer dat die minister haar politieke toesig rol vervul, kan dit ’n spanningskwessie in die RNE word.

Die patroon dat die ANC konkel om DA-ministers te ondermyn, moet besweer word. Daar moet ook agter die kap van die byl gekom word oor “wie almal saam eet of nie by Lighthouse Publishers”.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie