“Ek moet erken ek is ’n optimis,” het Albie Sachs, ’n voormalige regter van die konstitusionele hof en mede-argitek van Suid-Afrika se Grondwet, ’n paar jaar gelede in ’n voordrag in Stellenbosch gesê.
“Miskien selfs ’n ongeneeslike optimis,” het hy bygevoeg. “Alles in die land is nie pluis nie, en dit is nie die samelewing waarvoor ons geveg het nie,” het hy voortgegaan, “maar dit is die land waarvoor ons geveg het en ons moet die land red en die Grondwet wat ons het, gebruik om die samelewing te bou wat ons graag wil hê”.
Dit is die einste Albie Sachs wat nou gestalte kry in Albie Sachs, Fathers, Sons, and Soft Vengeance, ’n nuwe solostuk uit die pen van Gail Louw. Graham Hopkins vertolk die rol van Sachs en Fiona Ramsay is die regisseur van dié produksie wat tans in Theatre on the Square in Sandton, Johannesburg, opgevoer word.
Hopkins en Ramsay het verlede jaar elkeen ’n Fleur du Cap-toekenning opgeraap – Ramsay in Blonde Poison (ook ’n teks van Louw) vir die beste optrede in ’n revue, kabaret of solostuk, en Hopkins in My Fair Lady vir die beste optrede in ’n ondersteunende rol in ’n musiekspel.
Louw se teks is gebaseer op ’n reeks onderhoude wat sy met Sachs gevoer het en ook op The Soft Vengeance of a Freedom Fighter, Sachs se boek wat in 1990 verskyn het, waarin hy onder meer skryf oor die bomontploffing in Maputo in 1988 waarin hy sy regterarm en sig in een oog verloor het.
Sachs was ’n vooraanstaande lid van die ANC en die bom was die werk van die destydse Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte.
Die toneelstuk volg twee verweefde bewussynstrome: Aan die een kant die bom, die verwoestende fisieke en geestelike impak en die lang reis na herstel, en aan die ander kant Sachs se refleksie oor sy verhouding met sy pa, die vakbondman Solly Sachs, sowel as sy seuns, veral sy jong seun, Oliver.
Die karakter van Sachs besin oor die werklikheid dat Oliver en sy geslag grootword in ’n Suid-Afrika waar Apartheid bekend is as feite, eerder as emosie. En sommige van dié geslag ken nie eens die feite nie.
“Die oogmerk is nie om die geskiedenis lewend te hou nie,” sê Hopkins, ’n akteur wat bekend is daarvoor dat hy indringend navorsing doen oor die karakters wat hy vertolk, oor sy benadering tot die stuk.
“Maar meer dat dit gaan oor die erkenning waar hierdie land vandaan kom en waarom die komplekse stryd van vandag beïnvloed word deur die moontlik eenvoudiger en meer direkte stryd van die verlede.”
Geklee in ’n bont hemp, soos dié waarin Sachs dikwels gesien word en met ’n panamahoed op die kop, sê Hopkins hy probeer nie Sachs naboots nie.
“Ek en Fiona het besluit dat die akteur die man bloot moet voorstel, met sy eie woorde en emosies wat in die eerste persoon uitgespreek word, eerder as om hom fisiek na te boots. Ek dink die minimalistiese ontwerp beklemtoon dié gedagte.”
Oor sy verhouding met sy regisseur sê Hopkins “ons is soos ’n ou getroude paartjie wat knorrig met mekaar kan wees sonder om aanstoot te neem”.
Die twee is al 40 jaar vriende en kollegas. “Ons het mekaar die eerste keer geregisseer in Alan Bennett se Talking Heads, 33 jaar gelede. Drie jaar gelede het ons saamgewerk aan en opgetree in ’n produksie van Hansard deur Simon Woods. Ons ken mekaar se manier van werk en vertrou mekaar.”
Om die rol te vertolk van “’n lewende ikoon” is vir Hopkins ’n groot uitdaging. “Ek het regter Albie Sachs by drie geleenthede ontmoet terwyl ek vir hierdie teaterstuk voorberei het, en elke keer was ek getref deur sy erns én sy ligtheid van hart. Dat hy albei met so ’n oënskynlike gemak dra, is merkwaardig.”

In Soft Vengeance of a Freedom Fighter beskryf Sachs hoe hy, omring deur die skoonheid van rose in Regent Park in Londen, gekonfronteer word met die verminking van sy regterarm. “Die verwysing na die rose is in die toneelstuk opgeneem,” sê Hopkins, “as deel van sy besluit om nie ’n prostese te dra nie, maar om trots en gemaklik in sy eie vel te wees, sonder om voor te gee.
“Dit is emblematies, nie net van die man self en sy morele krag nie, maar van die opofferings van so baie in die bevrydingstryd, wat deel gevorm het van Albie Sachs se wese dwarsdeur sy lewe.”
En so beliggaam Albie Sachs, Fathers, Sons, and Soft Vengeance ’n diep pragmatiese optimisme wat gewortel is in die omskakeling van negatiewe ervarings in positiewe aksie.
Oorlewing beskou Sachs as ’n oorwinning en sy bydrae tot Suid-Afrika se demokrasie as “sagte wraak” is gewortel in die geloof dat die mensdom die probleme wat hy skep, kan oplos.
- Albie Sachs, Fathers, Sons, and Soft Vengeance is in Theatre on the Square te sien van 5 tot 24 Mei. Bespreek by www.webtickets.co.za. Kaartjies kos R200 en R220.
