Suid-Afrika kan die naaste aan ’n Paul Mashatile-presidentskap as ooit wees met die Phala Phala-bom wat die konstitusionele hof vandag gelos het. Die vraag in die lug is nou: Gaan pres. Cyril Ramaphosa verder lus wees vir wat nou alles moet volg?
Eerstens moet dit genoem word dat die land se Grondwet weer lofwaardig as keerwal teen korrupsie gedien het. Die konstitusionele hof het vir die tweede keer, sedert sy stigting in 1994, ’n ANC-president hard voor stok gekry.
Eers was dit die Nkandla-uitspraak teen oud-pres. Jacob Zuma se gebruik van staatsgeld vir opgraderings by sy Nkandla-woning. (Die einste hof het hom ook later weens minagting van die einste instelling, tronk toe gestuur. Dít, omdat hy nie die hof se bevel, dat hy voor die Zondo-kommissie moet getuig, uitgevoer het nie.)
Dit is goed vir die oppergesag van die reg en die uitroei van korrupsie dat Ramaphosa nou ook in die bek geruk word deur vandag se uitspraak. Niemand kan te belangrik geag word om voor die reg verantwoording te doen nie.
Met die uitreiking van die destydse Phala Phala-verslag, deur ’n onafhanklike ondersoekpaneel van die parlement, wou Ramaphosa sy goed vat en loop. Hy is egter letterlik deur sy binnekring en meer gesmeek om aan te bly.
Veral omdat sy opvolgbeplanning, soos steeds tans, in ’n chaos was. Hy het toe gebly en hulle het hul parlementêre meerderheid gebruik om die kwessie “te laat weggaan”.
Die vraag is nou: Het Ramaphosa die stamina om deur ’n staat van beskuldiging in die parlement te gaan? Die ANC het nie meer ’n meerderheid daar nie. Kan hy nou reeds deur ’n mosie van wantroue getref word en wat gaan partye soos die DA en VF+ dan doen?
Die belangrikste van al die vrae is: Is daar enige manier hoe die harde laatnagpartytjieganger en adjunkpresident van die land, Mashatile, uit die presidentskap gehou kan word sou Ramaphosa nou gaan?
Die ANC, MK-party en EFF het ’n gesamentlike meerderheid in die nasionale vergadering – ’n nuwe regering van nasionale eenheid onder Mashatile sou so gebore kon word. En die Alex-mafia sit dan in Thuynhuys.
Ironies het die goeie nuus, van ’n bevestiging van grondwetlike integriteit, die land op rand van die afgrond van ’n politieke nagmerrie gebring.
- Beukman is redakteur van Die Papier.
