Buite die konstitusionele hof het EFF-leier, Julius Malema, aan die media gesê dat Vrydagoggend se uitspraak teen pres. Cyril Ramaphosa in die Phala Phala-saak ’n groot probleem vir die ANC sal wees.
Dat dié uitspraak dinge moeiliker vir Ramaphosa en sy party sou maak, is gewis. Maar moenie van hul kollegas in die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) vergeet nie, sê Malema.
Dit is ook die DA wat nou met die gebakte pere sit.
Die DA het egter in ’n verklaring dit duidelik gemaak dat hulle die uitspraak verwelkom en die skeiding tussen hulle en die ANC, die twee grootste partye in die RNE, uitgewys.
“Dit is ’n ernstige oomblik vir die parlement, vir die presidensie en vir Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie. Die DA sal ten volle en konstruktief aan die beskuldigingskomitee deelneem,” lui die verklaring vanuit DA-leier, Geordin Hill-Lewis se pen.
“Hierdie uitspraak trek ook ’n duidelike lyn tussen die DA en die ANC. Vir te lank het die ANC ’n politieke kultuur gekweek waarin aanspreeklikheid vertraag, afgewater of vermy word wanneer dit ongerieflik raak,” skryf hy.
Die DA sal ’n staat van beskuldiging teen Ramaphosa ondersteun, en wil hê dit moet “behoorlik, rasioneel, regverdig en grondwetlik” gedoen word.
“Die DA staan vir ’n ander soort politiek waarin die Grondwet voor partylojaliteit kom, en geen leier beskerm word teen verantwoording aan die mense nie,” sê Hill-Lewis.
