“Ons gaan letterlik die bank se kussings moet oplig om te ondersoek wat presies hier gebeur het. Ek gaan nie deel wees van enigiets wat wangedrag beskerm nie.”
Só het DA-leier, Geordin Hill-Lewis, Saterdag by die party se provinsiale kongres in KwaZulu-Natal gesê, te midde van Vrydag se uitspraak deur die konstitusionele hof wat bevind het die parlement se hantering van die Phala Phala-verslag ongrondwetlik was.
Die ANC het in Desember 2022 sy volstrekte meerderheid in die Nasionale Vergadering (NV) gebruik om teen die aanbevelings van ’n onafhanklike verslag te stem dat daar ’n prima facie-saak teen pres. Cyril Ramaphosa is weens sy hantering van die diefstal van sowat $580 000 uit ’n rusbank op sy Phala Phala-wildplaas in Limpopo.
LEES OOK | Ramaphosa: Hof se uitspraak moet respekteer word
Die land se hoogste hof het meer as 500 dae geneem om uiteindelik ’n uitspraak te lewer nadat die EFF en die African Transformation Movement die aansoek in November 2024 gebring het.
Die NV gaan nou moet reageer op een van die aanbevelings in die verslag dat ’n komitee van stapel gestuur moet word om ’n proses te begin om Ramaphosa moontlik in ’n staat van beskuldiging te plaas.
“Ons gaan deel wees van daardie komitee. Ons gaan fokus op die feite. Die aangeleentheid moet van bo tot onder behoorlik ondersoek word,” het Hill-Lewis Saterdag aan die media in KwaZulu-Natal gesê.

Volgens hom is hy sedert Vrydag se uitspraak deur verskeie partye, insluitend die ANC, genader.
“Natuurlik was daar heelwat lede van die ANC en ander partye wat my die afgelope 24 uur gekontak het. Sommige wil dalk een of ander ooreenkoms bereik, maar ek is bevrees dat hierdie komitee sy gang sal moet gaan.
“Ons gaan bloot ons take uitvoer, die beginsel van integriteit in die land hervestig en die oppergesag van die reg verdedig,” sê Hill-Lewis.
