Wanneer jy afgestomp voel teenoor mense en jouself isoleer, is dit belangrik om jouself weer “by die lewe” te betrek, sê Angelique Marques Carreira, ’n arbeidsterapeut van Johannesburg.
Sy pas dit in haar eie werk toe met diereterapie. Dit kan lei tot gedragsveranderinge omdat die diere jou senuweestelsel kalmeer, verduidelik sy. Om saam met dolfyne te baljaar is nie vir almal op droë grond beskore nie, maar ander diere kan ook help, soos om koeie drukkies te gee.
“Wanneer mense depressief of angstig is, onttrek hulle dikwels, van mense, aktiwiteite en hul wêreld. Ons werk is om hulle stadig weer te help terugkeer,” sê sy.
“Teen die einde van so ’n sessie [saam met diere], sien jy mense wat aanvanklik stil en teruggetrokke was, begin lag en gesels,” sê sy.
Wetenskaplike navorsing van die Universiteit van Lincoln (2016) en Queen’s University Belfast (2022) het bewys diere kan ons emosies lees deur bloot na ons gesigte te kyk. Hulle kan ook of ons stres te ruik, en pas dan hul eie gedrag aan om ons te ondersteun en nader aan jou te beweeg.
“Om op te daag, deel te neem en selfs eenvoudige take te verrig soos om ’n dier te versorg, bou selfvertroue en gee ’n gevoel van doelgerigtheid,” verduidelik Carreira.
Daar is verskillende tipe diereterapie wat byna landswyd aangebied word:
Koei-terpaie:
’n Welstandneiging wat mense help om te ontspan deur fisiese kontak met koeie te hê. Dit het oorspronklik in die Nederland begin.
Perdeterapie:
Perde kan instinktief jou bui aanvoel en daarby aanpas.
Donkieterapie:
Die donkie is ’n wonderlike ding! Carreira bied sessies by Rest Ur Ass-donkieskuilings aan waar mense aan die donkies kan vat. Omdat donkies kalm diere met ’n effe komieklike voorkoms is, help dit mense om te ontspan, te lag en emosionele bande te vorm.
Olifant-interaksie:
Die rustige teenwoordigheid en stadige pas van olifante bevorder kalmte en emosionele genesing.
Alpaca-terapie:
Hulle is van nature sagmoedig en nie aggressief nie, wat ’n veilige omgewing skep vir mense wat angstig is.
Wanneer jy interaksies met diere het, gebeur daar ’n “chemiese versmelting” in jou brein wat wetenskaplikes die biophilia-effek noem. Jou brein herken die dier as ’n veilige, nie-oordelende teenwoordigheid, wat ’n kragtige neurologiese reaksie vrylaat.

Ander vreemde tipes terapie:
Klank-‘baddens’:
In plaas van water, word jy “toegegooi” onder klanke van bakke, ghongs en stemvurke. Jy lê bloot op jou rug terwyl die vibrasies van die instrumente deur jou liggaam trek.
Navorsing deur die Universiteit van Kalifornië, San Diego, in 2016, dui daarop dat hierdie vibrasies help om breingolwe te verlaag tot op ’n vlak van meditasie wat depressie en angs kan verlig.
Sewe sakke sout:
Wanneer jy stres, skei jou liggaam adrenalien af en verloor jy magnesium. Deur jou voete in warm soutwater te week, help jy jou liggaam om magnesium deur die vel op te neem en dit sal jou help ontspan.
Musiekterapie:
Luister na musiek om emosies te verwerk en stres te verlig. Navorsing deur die McGill-universiteit in Montreal, Kanada, in Maart 2025, het bewys dat jou eie speellys stresmerkers soos hartklop en kortisolvlakke aktief verlaag deur die brein se dopamienstelsel te aktiveer. Jy kan ook gaan vir musiekterpaie by kenners wanneer jy nie noodwendig by ’n sielkundige wil sit en praat nie.
Die tradisionele roete
Die meer tradisionele roete bly vir talle mense ’n kombinasie van medikasie en gespreksterapie. Soos Carreira uitwys, kan antidepressante, veral selektiewe serotonien-heropname-inhibeerders ,’n belangrike rol speel om simptome te stabiliseer. Gesprekke met ’n terapeut kan jou help om jou emosies te verstaan en te verwerk in ’n veilige ruimte.
