Springbok-stut Asenathi Ntlabakanye is vir 18 maande deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) geskors, weens die gebruik van verbode middels, het die Lions bevestig.
In ’n verklaring wat aan die media uitgereik is, het die Lions gesê hulle sal voortgaan om Ntlabakanye te ondersteun.
“Lions Rugbyunie bevestig dat hy kommunikasie van die Saids ontvang het oor die besluit om die Lions-stut Asenathi Ntlabakanye vir ’n tydperk van 18 maande te skors ná ’n oortreding,” lui die verklaring.
“Die Lions Rugbyunie, saam met MyPlayers – die spelersorganisasie, sal die toepaslike volgende stappe oorweeg.
“Gedurende hierdie tyd sal die Lions Rugbyunie voortgaan om Ntlabakanye te ondersteun terwyl hy die proses vorentoe hanteer.
“As gevolg van Saids se besluit het Ntlabakanye se tydperk van ongeskiktheid op 13 Mei 2026 begin, wat hom uit hierdie naweek se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen Munster sluit.
“Geen verdere kommentaar sal deur die Lions of die speler gemaak word totdat die proses oor die pad vorentoe afgehandel is nie,” het die verklaring afgesluit.
