Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het aanvanklik haar hande vol gehad met verskeie LP’s van verskillende partye wat sê pres. Cyril Ramaphosa kan nie voortgaan met die program nie, omdat hy nie die Grondwet ag nie.
Daarna het die MKP en EFF verdaag ná Didiza nie nóg vrae en stellings oor die konstitusionele hof se Phala Phala-uitspraak wou aanhoor nie.
Tydens sy spreekbeurt, het pres. Cyril Ramaphosa hulde gebring aan vloed-slagoffers in die Wes-Kaap, sê dodetal staan op 10 met duisende wat dakloos gelaat is.
Oor die ekonomie
Ramaphosa het gesê die vlakke van ons werkloosheid is eenvoudig onaanvaarbaar. “Daarom doen ons alles wat ons kan en in ons vermoë is om die groei van ons ekonomie te bevorder asook om meer werkgeleenthede te skep.”
Oor hoe ons die ekonomie kan laat groei en werkloosheid kan laat kwyn, het Ramaphosa volgehou dat belegging in infrastruktuur ’n sleutelfaktor kan wees. “Ons het vir die heel eerste keer in die geskiedenis van ons land daartoe verbind om R1 triljoen vir infrastruktuurbelegging beskikbaar te stel.”
Ramaphosa het ook die mynwese as voorbeeld gebruik dat Swart Ekonomiese Bemagtiging wel werk. “SEB [wat ’n struikelblok vir ekonomiese groei is] is vals, ’n leuen en bloot ’n slagspreuk.”
Ramphosa het ook die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap se werk geloof wat daarop gemik is om werkloosheid onder jong mense in landelike gemeenskappe te verminder deur vaardigheidsontwikkeling, leierskapsontwikkeling en gemeenskapsdiens.
Oor geweld en veiligheid
Hoewel die DA-hoofsweep, en onlangs ook die nuwe parlementêre leier, George Michalakis, die president oor die effektiwiteit van Operasie Prosper gepols het, het Ramaphosa volgehou dat dit werk.
“Ons sal verseker dat ons die SANW op hul pad na uitnemendheid ondersteun, en dit moet onderlê word deur meer hulpbronne aan hulle te gee.
“Ons gaan ook voort om die SAPS te ondersteun om hulle te versterk en hul vermoëns te verbeter, sodat wanneer die tydperk waarvoor hulle deur die parlement in daardie gebied ontplooi is tot ’n einde kom of afgeskaal word, hulle as SAPS beter in staat is om saam met gemeenskappe te werk.
“Hulle sal dan saam met polisiëringsforums in die gemeenskap en almal in die gemeenskap kan verseker dat ons georganiseerde misdaad en bende-aktiwiteite in daardie gebiede kan uitroei.”
Oor Sisisi Tolashe se afdanking
Ramaphosa het die minister van maatskaplike ontwikkeling, Sisisi Tolashe, vroeër vandag afgedank. Hieroor het hy gesê: “Op grond van verskeie verslae in die media, sowel as voorleggings in die Parlement, het ek die destydse minister van maatskaplike ontwikkeling versoek om aan my ’n verslag oor al hierdie kwessies te verskaf. Ek het ’n gesprek met die minister gevoer en haar die geleentheid gegee om haar saak uiteen te sit.
“Nadat ek al hierdie voorleggings van die minister oorweeg het, en met inagneming van die gedrag wat van lede van die uitvoerende gesag verwag word, het ek besluit om die minister uit haar pos as minister van maatskaplike ontwikkeling te verwyder ingevolge artikel 91(2) van die Grondwet.”

Oor NSFAS
Volgens Ramaphosa werk die regering aan ’n nuwe model om ineengestorte NFAS te vervang om veral die ontbrekende middelklas finansieel by te staan. Hy glo dat hierdie model terugwerkend studente sal bystaan wat deur die huidige befondsingskrisis geraak word.
Ramaphosa beaam dat hulle die jeug met opleiding moet bemagtig om die werkloosheidkrisis so effektief moontlik aan te spreek.
Oor Masemola en kie
“Die nasionale kommissaris van die SAPS, genl. Fannie Masemola, het ingestem om geskors te word,” het Ramaphosa gesê. Gevolglik was daar geen behoefte om die prosesse te volg wat betwiste skorsing te volg nie. Hy het gesê dat hy lt.genl. Puleng Dimpane, wat die nuwe waarnemende nasionale polisiekommissaris is, ondersteun.
“Ek het geen twyfel dat hulle [Dimpane en Prof. Firoz Cachalia, waarnemende minister van polisie] die taak wat voorlê met die nodige ywer sal uitvoer, sonder enige vorm van inmenging van enigiemand nie.
“Ek het vir Dimpane gesê dat sy haar taak moet uitvoer sonder enige onbehoorlike invloed van enige kant hoegenaamd, en sy is self ’n onafhanklike denker. Ek glo sy sal in staat wees om onafhanklik op te tree in die belang van die mense van Suid-Afrika.”
