Kinderbeskermingsmaand plaas soeklig op groeiende krisis

Die Kinderfonds.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

Mei is Kinderbeskermings­maand en vanjaar se tema is: Werk saam om geweld teen kinders te beëindig. Dié veldtog duur die hele maand en word aan die einde van Mei met Kinder­beskermingsweek afgesluit.

Volgens die departement van maatskaplike ontwikkeling fokus vanjaar se nasionale veldtog op die bekamping van statutêre verkragting, tienerswangerskappe en die versterking van gemeenskappe se ondersteuning- en beskermingstelsels.

Die jongste syfers van die departement van justisie toon ’n toename in statutêre verkragtingsake tydens die 2025’-26-boekjaar. Sake wat aangemeld is, het van 127 tot 199 gestyg.

Selfs minderjariges is by hierdie misdade betrokke. Volgens dié syfers is 22 kinders van statutêre verkragting aangekla, terwyl 890 min­derjariges by sulke sake betrek is.

“Die bevordering van kinders se regte, veiligheid en welstand is belangrik in ’n tyd waarin mishandeling, verwaarlosing en uitbuiting van kinders toeneem,” sê Adrie van Staden, die uitvoerende hoof van Die Kinderfonds.

Die Kinderfonds.

Van Staden sê die organisasie ondersteun verskeie welsynorganisasies, wat daagliks met kwesbare kinders werk, beskermingsdienste lewer en voorkomingsprogramme aanbied om kinders van hul regte en vei­ligheid bewus te maak.

“Die Kinderfonds ondersteun onder meer RATA- maat­skaplike dienste, NG welsyn, Famsa Potchefstroom en CMR-noord. Hierdie organi­sasies doen noodsaaklike werk om kinders te beskerm, aanmelding van mishandeling aan te moedig en hulp aan slagoffers te verleen.”

Sy beklemtoon dat aanmel­ding van mishandeling nie bloot ’n morele verantwoordelikheid is nie.

“Enigiemand wat bewus is van mishandeling, uitbuiting of verwaarlosing van ’n kind, het ’n wetlike verpligting om dit aan te meld,” sê Van Staden.

Voorvalle kan by die 24-uur-­hulplyn by 0800 428 428 aangemeld word. Childline kan ook by 116 gekontak word, of gevalle kan by ’n plaaslike maatskaplike werker of polisiekantoor aangemeld word.

Lesers kan met ’n bydrae aan Die Kinderfonds ’n kind in ­sulke omstandighede help.

Boonop het jy ook die kans om ’n Toyota Vitz of R200 000 te wen. Skenk R50 vir een inskrywing en as jy R250 gee, sal jy ’n gratis, ekstra inskrywing kry – dus ses inskrywings in plaas van vyf.

  • Bankbesonderhede: Die Kinderfonds, Absa, rekening­nommer 2840157329, en gebruik jou selfoonnommer as verwysing.
  • Vir kaartbetalings: Klik hier. Kry al die inligting oor die kompetisie op Die Kinderfonds se Facebook-blad.
  • Rig navrae aan Adrie van Staden by 061 479 4791.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie