Kaapse vloede: Dodetal styg tot 11, skade beloop miljoene

Meer as 2 000 mense is verlede week in die Kaapse Wynland-distrik weens gure weer dakloos gelaat. Foto: NSRI
Meer as 2 000 mense is verlede week in die Kaapse Wynland-distrik weens gure weer dakloos gelaat. Foto: NSRI

Die Wes-Kaapse regering het Maandag tydens ’n perskonferensie in Kaapstad bevestig dat nog ’n persoon in Worcester verdrink het, wat die dodetal ná verlede week se verwoestende vloede op 11 te staan bring.

Die provinsie het, onder leiding van premier Alan Winde, ’n verslag aan die media by die provinsiale rampbestuursentrum by die Tygerberg-hospitaal voorgelê.

Die Kaapse Wynland-distrik en die Tuinroete word tans die ergste deur die vloede geraak, waar talle paaie en brûe weggespoel het.

Minstens 11 skole regoor die provinsie is weens stormskade gesluit, het Winde gesê.

“Alle fokus is nou op die opruimingswerk. Ons het spanne wat oor verskeie streke heen help met rampverligting.

“Ons is veral dankbaar vir ons departement van infrastruktuur wat spook om paaie oop en herstel te kry. Verlede week was die Michell’s-pas gesluit en wie weet hoeveel ton modder en rotse die pad versper het. Daai einste pad is vandag weer oop en verkeer vloei,” het Winde op die perskonferensie gesê.

“Ons is natuurlik nog besig om die totale omvang van die skade aan ons infrastruktuur te bepaal, maar dit beloop waarskynlik honderde miljoene rand,” het hy bygevoeg.

LEES OOK | 3 liggame in Breedevallei gevind terwyl vloede Wynlande verwoes

Altesaam 103 350 mense regoor die provinsie is direk deur die stormweer geraak.

Meer as 21 000 strukture in die Kaapstad-metro alleen het skade opgedoen.

In die Kaapse Wynland-distrik is meer as 2 000 mense dakloos gelaat en in skuilings of alternatiewe verblyf geplaas.

Intussen spook Eskom ook om die kragtoevoer na verskeie dorpe te herstel nadat stormweer skade aan infrastruktuur veroorsaak het.

Sommige dorpe was Maandag reeds sewe dae sonder krag.

  • Hou Die Papier dop vir meer.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie