Drie liggame is Dinsdag, 12 Mei, uit geboue wat oorstroom het, op ’n plaas wat langs die Ou N1-pad tussen Worcester en Rawsonville, gebring, terwyl verwoestende vloede steeds groot skade in dele van die Kaapse Wynlande aanrig.
Meer as 20 mense, insluitend plaaswerkers en hul families, is van dieselfde plaas gered nadat hulle glo sedert Maandag, 11 Mei op die dakke van geboue vasgekeer was weens vinnig stygende vloedwater wat deur swaar reën veroorsaak is.
“Met behulp van lere is die slagoffers, insluitend babas, peuters, kinders, volwassenes, bejaardes, sowel as ’n blinde man en ’n parapleeg, en huisdiere, in groepe na veiligheid ontruim met behulp van die dryfvermoë van ons reddingsvaartuie,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), gesê.
“Ons reddingspan het onverpoos gewerk ondanks uitdagende toestande, en moes dikwels deur moeilik bereikbare terrein en oorstroomde gebiede loop en swem. Sodra hulle uit gevaar en op vaste grond was, is hulle in die sorg van die boer geplaas.”
Lambinon het gesê die NSRI kon nie verskeie plaas- en huisdiere, sowel as wild, red nie nadat toestande te gevaarlik vir reddingspanne geword het.
