Dit was so vreemd soos wat dit raar is. Aanhangers moes vir minute lank in die paviljoene en op TV toekyk hoe die skeidregters op ’n besluit wag wat net nie wil kom nie . . . Die vraag op almal se lippe: Het een van die Lions-spelers werklik in ’n Munster-man se gesig gespoeg?
Dít was die ernstige aantyging teen een van die Lions-spelers deur die plaasvervanger Diarmuid Barron tydens die Johannesburgers se kragmeting teen Munster in Limerick Saterdagaand.
Die Lions het die wedstryd eindelik 24-17 verloor, maar met beide spanne wat na die uitkloprondes deurgedring het, was die spoeg-insident ná die wedstryd van groter belang. Veral as ’n mens op sosiale media gekyk het.
In die 61ste minuut van die wedstryd het Munster se Barron vir die skeidsregter, Andrea Piardi, gesê dat Mahashe in sy gesig gespoeg het. Aanvanklik was dit nie duidelik dat hy oor die Lions-flank Siba Mahashe gepraat het nie. Maar dit is nou duidelik dat Barron vir Mahashe beskuldig het.
Piardi het dadelik die TV-skeidsregter se hulp ingewin en ondanks ’n vyfminute-soektog deur TV-herhalings is geen bewyse gevind nie.
Piardi het aan die kapteins verduidelik dat die wedstryd moet voortgaan, en indien daar ’n voorval was, dit nou in die hande van komitee sal wees wat ná wedstryde spelers straf.
Maandagmiddag het die kommissaris beslis dat daar geen bewyse is om Mahashe vir die insident te vervolg nie, en het bevind:
- Die video-bewyse is onoortuigend, en daar is geen duidelike en sigbare aksie deur Lions-flank nie.
- Munster se nommer 16 is duidelik, en hy sê dat die Lions-flank in sy mond gespoeg het, maar die Lions-speler weerspreek dit, en hy sê hy het probleme met sy mondskerm gehad ná voor die losgemaal kontak teen sy kop ontvang het. Hy ontken die bewerings ten volle.
- Aangesien daar geen videobewyse is om die bewering te steun nie, is ek van mening dat ’n formele klag nie in hierdie geval haalbaar is nie.
