Sanger Brendan Peyper word nie meer gesekwestreer: ‘Ek is tevrede dat waarheid eindelik seëvier’

Die sanger Brendan Peyper.
Die sanger Brendan Peyper. Foto: Facebook.

Die sanger Brendan Peyper word nie meer gesekwestreer nie.

Peyper se prokureur, Eloise Cilliers, het Maandag aan Die Papier bevestig “die applikant (Eduard Hugo, eienaar van SA Concerts) het slegs ure voor die aanhoor van die sekwestrasie-aansoek, ons genader om ’n ooreenkoms te bereik.”

“Ek is tevrede dat regverdigheid en waarheid uiteindelik geseëvier het en dat ek kan aangaan met my lewe sonder dat daar ’n swaard konstant oor my nek hang,” het Peyper Maandag aan Die Papier gesê.

“Sonder my vertroue in my verlosser, Jesus Christus, en Sy werk in my lewe, dink ek die resultaat mag dalk heelwat anders gelyk het.”

Die hof het Peyper in November verlede jaar onder voorlopige sekwestrasie geplaas.

Die sekwestrasie spruit uit ’n geskil tussen Peyper en Hugo oor die Loslit-fees by die Hoërskool Monument in Krugersdorp in 2023.

Die fees, waarby Peyper saam met ander Afrikaanse kunstenaars opgetree het, het na bewering verliese van honderdduisende rande gelei, en Hugo wou 50% van die koste van Peyper verhaal omdat hul beweerde vennootskap glo gedeelde regsaanspreeklikheid insluit.

Maar Peyper het deurgaans volgehou hy is nie verantwoordelik vir enige verliese nie. Hy het die aard, afdwingbaarheid en bestaan van die beweerde vennootskap teengestaan.

Hy het voorheen in sy eedsverklaring aangevoer dat hy Hugo “herhaaldelik” gevra het vir ’n ooreenkoms wat die rolle uiteensit. Volgens Peyper was dit sy rol om bemarking vir die fees te doen en daar op te tree.

Hoewel die hof WhatsApp-boodskappe tussen Peyper en Hugo toegelaat het waarin die “vennootskap” bespreek is, het Peyper se regsspan volgehou enige gesprekke oor ’n vennootskap was onderhewig aan ’n formele ooreenkoms, wat nooit gebeur het nie.

“In terme van die skikking (in die sekwestrasie-aansoek), wat ’n bevel van die hof gemaak is, behou die applikant (Hugo) die reg om, indien hy sou wou, aksie in te stel by wyse van dagvaarding vir die beweerde bedrag sowel as die aspek van koste in die sekwestrasie-aansoek,” het Cilliers gesê.

Volgens Cilliers sal hulle enige verdere stappe deur Hugo teenstaan.

Sy het bevestig dat enige beweerde uitstaande bedrag, “indien dit inderdaad bewys word”, reeds in die prokureurs se trustrekening lê.

  • Pogings om Hugo en sy prokureurs in die hande te kry was nog nie suksesvol nie. Hugo het Die Papier se Instagram-boodskap gelees, maar nie daarop gereageer nie.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie