Voormalige Springbokkaptein Victor Matfield glo Suid-Afrikaanse franchises moet aanhou deelneem aan die wêreld se beste klubkompetisies en vir hom is dit die Europese Kampioenebeker.
Matfield het eksklusief met KickOff Rugby gepraat en gereageer op SA Rugby wat glo beplan om die land se deelname in Europese klubkompetisies in Julie hersien. Dít word glo oorweeg weens hul kommer oor spelers se welstand.
Hoewel SA Rugby-president Mark Alexander nie spesifiek die Europese Kampioenebeker genoem het nie, bevestig verskeie bronne dat dit die kompetisie is wat die grootste druk ervaar vir hersiening of moontlike onttrekking.
Matfield, wat 127 keer vir die Springbokke uitgedraf het, het gewaarsku dat onttrekking aan dié toernooi ’n groot terugslag vir Suid-Afrikaanse rugby sal wees.
“As dit die Kampioenebeker is, sal dit regtig hartseer wees. Ek weet nie wat hulle wil doen nie.
“Vir my is die toernooi tans die beste kompetisie in die wêreld, en as jy die beste klubspan in die wêreld wil wees, moet jy daardie kompetisie wen.
“Dit sal dus hartseer wees [as SA onttrek], maar ek het nog niks gehoor nie, en ek weet nie wat die rede daarvoor is nie.
“Kom ons hoop ons bly in die toernooi, want dit is eenvoudig ’n fantastiese kompetisie,” het hy bygevoeg.
- Kry al jou rugbynuus in Die Papier, op NovaNews en op KickOff.com.
