Wenbrief van die week: Die weer se rumba of cha-cha-dansery

Stilte ná die storms oor Gordonsbaai. Foto: Cobus Germishuys

Om wêreldklimaat akkuraat te voorspel, is en bly ’n onsekere saak.

Nou verklaar internasionale klimaatsmodelle dat die El Niño-verskynsel in die Stille Oseaan besig is om sodanig te ontwikkel en te versterk dat dit tot een van die dodelikste klimaatsverskynsels in die moderne geskiedenis aanleiding mag gee.

Dit sal glo in die tweede helfte van 2026 begin.

Waar El Niño (die seun) tot groter en sterker gebiede van warm seewater in die Stille Oseaan en droogtes met hoër temperature en selfs hittegolwe op aarde aanleiding gee, is La Niña (die dogter) die verskynsel wat koeler seewater in die Stille Oseaan, met meer reën- en bewolkte weer oor groot gebiede, veroorsaak.

Hierdie seun- en dogter-fenomene ossileer blykbaar voortdurend soos bedrewe cha-cha- of rumba-dansers.

Ons het in Suid-Afrika in 2026 tot dusver reeds taamlik onder La Niña deurgeloop met vloede wat sedert Januarie in die noorde van die land (in Limpopo, die Krugerwildtuin en Noordwes) voorgekom het, en ook gedurende die afgelope weke in die Wes-Kaap en dele van die Oos-Kaap.

Maar nou mag El Niño weer vir ons vir die res van die jaar droeër tydperke met hoër temperature bring.

Vir ons stadsbewoners in die noorde van die land mag dit die nat en bewolkte tydperke wat ons sonkragstelsels minder doeltreffend laat werk het, tot ’n einde bring, maar ons boere in die noorde wil natuurlik weer eerder goeie lente- en somerreën vir hul gewasse hê.

  • Prof. Pieter Pansegrouw van Pretoria (PPP van P)

Skryf aan Die Papier om deel te neem aan dié gesprek en vele ander:

lesers@diepapier.co.za


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie