Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het die identiteit van die geheimsinnige Sindikaat X onthul, wat een van die partye was wat glo onregmatig geld uit tenders by die Tembisa-hospitaal in Gauteng verkry het.
Die SOE het onthul dat Stefan Joel Govindraju die sleutelfiguur agter Sindikaat X is. Die ondersoek het bevind Govindraju is die direkteur van minstens 75 entiteite, waarvan 73 onreëlmatig by die Tembisa-hospitaal aangestel is.
Gedurende die tydperk wat ondersoek word is 1 237 kontrakte aan die entiteite toegeken deur ’n sogenaamde drie-kwotasie-proses wat nie aan verkrygingsvoorskrifte voldoen het nie. Die maatskappye het na bewering altesaam R596,4 miljoen uit onreëlmatige kontrakte ontvang.
Die eenheid het voorts in sy verklaring gesê hy is verheug nadat die spesiale tribunaal ’n bewaringsbevel toegestaan het teen Duduzile Nkosazana Nobungwana, ’n voormalige klerk in die voorsieningsketting-eenheid by Tembisa-hospitaal om bates ter waarde van miljoene rande te vries.
Luidens die hofbevel van die Spesiale Tribunaal, word Nobungwana verbied om toegang tot haar pensioenvoordele van sowat R1,8 miljoen te verkry.
LEES OOK: SOE vasgepen oor versuim om inligting oor voertuie in Tembisa-hospitaal-skandaal te openbaar
Daarbenewens het die hof ’n interim-interdik toegestaan wat die oordrag van die opbrengs van die verkoop van ’n luukse eiendom in Midstream Estate stopgesit het.
Die eiendom, geleë op Erf 5053 Midstream Estate Extension 64, se waarde word op R6,4 miljoen beraam. Die hof het gelas dat die prokureursfirma, Ihlenfeldt Attorneys, die bates in ’n rentedraende trustrekening moet hou hangende die finale afhandeling van siviele gedinge.
Die ondersoek deur die SOE het onthul dat Nobungwana, as hoofaankoper en lid van die keuringskomitee, ’n kernrol gespeel het in die onreëlmatige toekenning van kontrakte. Sy het na bewering omkoopgeld van verskaffers ontvang.
Die onwettige betalings is volgens die SOE deur ’n skimmaatskappy, Mabitwa Trading, gekanaliseer om die Midstream-eiendom te koop. Die huis is uiteindelik geregistreer in die naam van Amatibe Holding, ’n maatskappy wat aan haar seun, Oscar Nobungwana, behoort.
Die SOE beweer dat Nobungwana se optrede bygedra het tot onreëlmatige uitgawes van minstens R5,1 miljoen met ’n verlies van sowat R13,6 miljoen vir die staat.
Verder word beraam dat Govindraju se sindikaat sowat R100 miljoen aan huidige en voormalige hospitaalamptenare betaal het as onbehoorlike vergoeding.
Nobungwana het bedank te midde van ’n tugverhoor. Die SOE moet 60 dae formele siviele verrigtinge instel vir die verbeurdverklaring van die bates. Die eenheid het ook bewyse van misdadige gedrag na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vir verdere optrede verwys.
