Parool-drama ontketen nuwe wrywing tussen VF+ en DA

Dr. Pieter Groenewald (regs), minister van korrektiewe dienste, met Makgothi Thobakgale, nasionale kommissaris.
Dr. Pieter Groenewald (regs), minister van korrektiewe dienste, met Makgothi Thobakgale, nasionale kommissaris.

Die volskaalse woordeoorlog wat voor die naweek tussen die DA- en VF Plus -leierskap losgebars het, het volgens beskikbare aanlyn ontledings die topvyf gehaal vir die volume van deelname aan politieke diskoers op sosiale media in Mei vanjaar.

Leiers van die VF Plus, insluitend Corné Mulder, partyleier, en Pieter Groenewald, minister van korrektiewe dienste, het Saterdag vrae geopper oor die motief vir Geordin Hill-Lewis, DA-leier, se aanval op Groenewald.

Hill-Lewis het gevra dat die parlement Groenewald ontbied om verantwoording te doen oor ’n AmaBhungane joernalistieke ondersoek wat onthul het 28 000 gevangenes wat op parool is, kan nie opgespoor word nie.

Sosiale media het vinnig ontplof en Hill-Lewis het deurgeloop omdat hy juis die gewilde Groenewald aanval eerder as die ANC. Die diskoers het vinnig van X na Faceboek, LinkedIn, Instagram en ander platforms oorgespoel.

Mulder meen Hill-Lewis het ’n politieke motief omdat die VF Plus begin groei het ten koste van die DA. Ook omdat Groenewald beter vaar as meeste DA-ministers.

Groenewald het Hill-Lewis daarvan beskuldig dat hy stokou statistiek verkeerdelik voor sy deur gooi. Hy noem dit ‘moddergooiery’. Hy het ook ’n tweede stempos aan Die Papier gestuur waarin hy uiteensit watter ingrypings oor parool reeds gedoen is.

Die DA-mediakantoor het gister by navraag bloot Hill-Lewis se verklaring oor die kwessie, Vrydag, aangestuur.

Van die aanlyn reaksie sluit in:

  • Die DA probeer die VF Plus polities uitskakel.
  • Die DA het ’n berekende strategie daarvoor.
  • Daar is jaloesie oor Groenewald se aanhang onder wit en swart – ’n liedjie wat hom as “die witman vereer” het ook verlede week op sosiale media rondes gemaak.
  • Die DA gee voorkeur aan sy verhouding met die ANC in die regering van nasionale eenheid.

‘n KI-ontleding vroeg Saterdagmiddag wys wel dat 45% van kommentare Hill-Lewis ondersteun het en aandui sy vrae was nodig vir verantwoording oor landsveiligheid.

Altesame 30% het Groenewald ondersteun en 25% was krities oor albei of die RNE.

Hooggeplaaste DA-ampsdraers was gister by heelwat steunwerwingsaksies betrokke en het nog gery op die golf van die party se onverwagse oorwinning in ’n tussenverkiesing in ’n swart wyk in Emfuleni in Gauteng.

Hill-Lewis het vroeër oor die DA se oorwinning in die Evaton West-wyk in Emfuleni, wat nou vir die historiese eerste keer blou gedraai is, gesê: “Dit is ’n uitstekende teken vorentoe dat al hoe meer Suid-Afrikaners die DA kies, verandering kies en ’n party kies wat ’n regering kan lewer wat vir almal werk.”

Die ANC het besluit om die Emfuleni-burgemeester, Sipho Radebe, uit sy stoel te lig. In ’n verklaring sê die ANC se provinsiale leierskap hulle het ’n reeks ernstige tekortkominge in basiese dienslewering in die munisipaliteit geïdentifiseer.

Lees van die gesprekke op X hier:


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie