Die moontlike moordwapen en gehalte van slotbetooghoofde was op Woensdag 3 Junie ’n onderwerp van bespreking in die hooggeregshof in Kimberley waar twee mans van moord aangekla word nadat hulle ’n man glo doodgeskop en -geslaan het ná sy erkenning dat hy ’n minderjarige meisie seksueel aangerand het.
In die saak word Phillipus Adrian van Wyk (31) en Steven Francois Coetzee (43) daarvan beskuldig dat hulle Duncan Cameron op 12 November 2022 vermoor het.
Slagoffer ‘geslaan, geskop en verwurg’
Luidens die akte van beskuldiging het die voorval by Coetzee se huis in Herculesstraat, Herlear, begin waar die beskuldigdes en hul gesinne saam gebraai het. Gedurende die middag het die mans gehoor ’n minderjarige familielid is na bewering deur Cameron seksueel aangerand.
Van Wyk was glo ook woedend daaroor en het verklaar het Cameron moet oorgenooi word omdat hy hom “wou doodmaak”.


Met Cameron se aankoms het die mans aanvanklik saam gedrink. Terwyl die vroue besig was om die aandete voor te berei, het die twee beskuldigdes Cameron buite aangeval.
Cameron is met gebalde vuiste geslaan, geskop, sy kop teen ’n muur gestamp en is hy ook gewurg.
Ná die aanval het Coetzee en ’n buurman, Jason Strydom, Cameron se liggaam na die sypaadjie gedra waar hulle hom gelos het. Polisie en mediese personeel het hom later op die toneel dood verklaar.
’n Lykskouing op 14 November 2022 het bevestig die oorsaak van dood is “stomp kop-trauma en verwurging”.
