Met dagbreek is die winterse sonsopkoms kil en skrei-oranje oor die Limpoporivier. ’n Mens word oorval met ’n heilige stilte en diep dankbaarheid wanneer jy daar staan.
In die sloep van die Levuvhurivier, voordat dit oopgespoel is deur die vloed vroeër vanjaar, sou ’n mens gereeld die nurk van seekoeie hoor, terwyl jou oë onwillekeurig die witreiers se formasievlug laag oor die rivier volg. In die struikgewas word die veervolk elke oggend kwetterend wakker.
Staan ’n mens teen vroegskemer by die braaiplek van die Pafuri-grenskamp bo-op die nabygeleë heuwel, is die kans goed dat jy bederf sal word met die rooibekwêlas se sirkelvlugte. Vreedsaam, veilig, tydloos.
Van hierdie drie bly tans slegs “tydloos”.
Crook’s Corner is skielik ’n pleknaam wat jou hart yskoud tot in jou bang maag laat sak.
In sy boek The Ivory Trail skryf T.V. Bulpin hoe Bvekenya Barnard en ander landlopers die grensbaken tussen Suid-Afrika, Portugees Oos-Afrika (Mosambiek) en Zimbabwe (Rhodesië) geskuif het, afhangend van watter owerheid op hul spoor was. “It was certainly a convenient beacon.”
Die boek is ’n verromantiseerde weergawe van ’n tyd vroeg in die vorige eeu waar ivoorjagters, werwers van “swart ivoor”, oftewel arbeid vir die Witwatersrandse myne, en ander bedenklike karakters die septer geswaai het. Teen die muur van die administratiewe kantoor in die Pafuri-grenskamp, met sy drie historiese oornagplekke, is tot vandag toe ’n naambord: The Employment Bureau of Africa Ltd – Wenela (Witwatersrand Native Labour Association).
Dit is boomryke gebied, hoewel die grootste gedeelte van die koorsboomwoud weggesleur is in die vloed van 2000. Tog skep die hardekole, kremetarte, jakkalsbessies en appelblare steeds ’n blaredak oor die handvol grondpaaie. ’n Mens drink die misterie in, heel tevrede met dáár wees, al sien jy dalk maar min wild.
“To Bvekenya, this road with all its roughness was like a pathway to the stars. From the moment his feet first trod upon it, with the wilderness before him and civilisation left far behind, he felt all the keen contentment and lively interest in his surroundings of a wanderer returning home from a far country.”
Maar nou. Hoe sal ek en sovele ander vir wie dié uithoek immer nog ’n gunstelingbestemming is, dit voortaan betree?
Gaan ’n mens die asem intrek uit verwondering of vrees? Sal die gewyde stilte van die bos nog tot troos wees of gaan elke tak wat breek ons angstig laat omkyk?
Ek kan nie, wíl nie, my indink aan die geweld van die laaste aardse minute van Ernst en Dina Marais nie.
As ek so sukkel om die skree in my borskas te hou, hoe voel hul geliefdes?
Dae lank draal Lucas Malan se gedig “Lugtig” in my gedagtes: “Waar iemand doodgaan,/ skeur die lug, / snak die uur na asem en dit sug: ver- / by. […] // Die dag ruim plek in, ongemerk,/ en bome buig in nabetragting, vlug / hul aardsheid binne, word weer groen […]”
Hoe maak ’n mens van so ’n plek van grusaamheid weer heilige grond?
