Stel jou voor: ’n Bus vol jolige rugbyseuns wat pas die eindstryd van die liga gewen het. Almal sing en dans; vier behoorlik fees.
En hul rugbytruie? Dis ontwerp en gemaak deur die spankaptein wat ook die wendrie gedruk het.
Sport en die kunste hoef nie vyande te wees nie, maar baie kunstekinders ervaar nooit die jolyt van ’n busrit soos dié nie, sê Steve Schamrel, VIBE Innibos-projekkoördineerder.
Hulle kry nie die geleentheid om hul staal op ’n nasionale verhoog te wys nie.
Dis wat VIBE Innibos vanjaar wil verander, sê Schamrel. “Noem ons sommer die Cravenweek van die kunste.”
VIBE Innibos is ’n jeugkunstesimposium en -ekspo wat vanjaar die eerste keer van 29 Junie tot 1 Julie by die Nelspruit Primary School gehou word. Die projek, in samewerking met die Toyota Innibos Nasionale Kunstefees, is die eerste in sy soort in die land wat die kunste onder jongmense wil bevorder.
Skryf in
Onderwysers en leerders van gr. 7 tot gr. 12 kan inskryf.
’n Deelnemer kies een uit vier dissiplines – teater, dans, musiek of drama.
Hulle kry dan ses meestersklasse by uitsoektalent in die Suid-Afrikaanse kunstewêreld.
Aanbieders sluit in legendes in die bedryf soos Lizz Meiring, Reuben Mpangane, Murray Lubbe, Barry Pretorius en Angela Revie.
Elke deelnemer kan na drie produksies gaan kyk.
Kaartjiepryse sluit toegang in tot ’n ekspo wat op tersiêre instellings fokus en onderrig in die kunste bied.
As ’n bonus gee ’n VIBE-kaartjie jou ook toegang tot die Innibos-feesterrein van 2 tot 4 Julie.
En die grootste vreugde? ’n Amateurverhoog, geborg deur Afda en Stadio, waar leerders die geleentheid kry om hul talente ten toon te stel.
Kontak Schamrel by 071 418 4049 of info@vibefees.co.za vir nog inligting.
Volg ook VIBE Innibos op Facebook.
