Binne een week is minstens drie gesinne in Bonniemile, Raithby en Noord-Agter-Paarl die slagoffers van gewapende huis rooftogte deur gemaskerde bendes.
Die Boland-streek word geteister deur ’n kommerwekkende reeks gekoördineerde huis rooftogte. Binne minder as ’n week is minstens drie gesinne in verskillende gebiede van Stellenbosch en Paarl deur gewapende, gemaskerde mans oorval. Almal is vasgebind, almal is beroof, en almal is met groot vrees agtergelaat.
Gemeenskapslede stel al hoe meer vrae oor die veiligheid van hulle eie huise
Die mees onlangse voorval het Woensdagaand, 3 Junie, omstreeks 20:50 plaasgevind toe twee slagoffers in hul woning op Bonniemilerylaan, Stellenbosch, deur gemaskerde mans oorval is. Die rowers, wat swart gesigsmaskers gedra het en onder andere met pangas gewapen was, het die slagoffers vasgebind en kussings oor hulle koppe gehou terwyl hulle die huis van alles gestroop het.
Die dogter van die slagoffers het haar ouers se belewenis op sosiale media gedeel. “My ma sê sy het net gebid vir haar lewe. Sy is verskriklik ge-rattle. Dit lyk of ‘n tornado deur die huis gegaan het,” skryf sy. “Dit is so upsetting dat mens so moet leef en bid vir jou lewe in jou eie huis.”
Haar ouers is daarna in ’n kamer toegesluit terwyl die rowers soos blits verdwyn het, ten spyte van die groot hoeveelheid besittings wat hulle gesteel het. Die dogter vermoed dat dit die werk van ’n georganiseerde sindikaat is wat die slagoffers vooraf dopgehou het.
Wes-Kaapse polisiewoordvoerder Thembakazi Mpendukana het die voorval bevestig: “Stellenbosch-polisie het ’n huisroofaak geopen na aanleiding van dié voorval. Vier onbekende manlike verdagtes het die perseel binnegegaan, die hande van die twee slagoffers vasgebind, hulle persoonlike besittings gesteel en gevlug. Geen beserings is aangemeld nie. Die saak is word ondersoek en geen arrestasie is nog gemaak nie.”
