Byna ses dekades nadat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se Viscount-vliegtuig Rietbok in die see naby Oos-Londen neergestort het, is Wouter Botes, ’n avonturier, weer op pad om na die wrak te gaan soek.
“Die Rietbok-ramp bly een van die bekendste tragedies in Suid-Afrikaanse burgerlugvaartgeskiedenis en wek steeds belangstelling onder familielede, navorsers en lugvaartentoesiaste.”
Hy sê sommige familielede van die 25 passasiers wat in die vlugramp dood is, dring steeds aan op antwoorde oor waarom die vliegtuig op 13 Maart 1967 onderweg van die destydse Port Elizabeth na Oos-Londen neergestort het.
Botes, ook ’n dokkie-aanbieder, en sy span vertrek einde September na die Oos-Kaapse-kus om weer te probeer om dele van die wrak van die SAL-vliegtuig te herwin. Die ekspedisie bestaan uit vyf duikers, twee mediapersone en ’n volledige filmspan. Dit word ondersteun deur verskeie borge ná jare se navorsing en voorbereiding sedert die wrak die eerste keer in 2022 gevind is.
“My navorsing, en talle ander vlieëniers se opinies dui daarop dat dit die vlieënier, Kaptein Gordon Lipawsky, se skuld was en dat daar niks fout was met die SAL-vlug nie,” sê hy. “Dit beteken dat die families wat geld wil eis by SAL vir die tragedie nie kan nie, en ook nie teen die vlieënier omdat hy ook op die vlug oorlede is.”
Volgens Botes het verskeie familiegroepe oor die afgelope paar jaar instellings genader om die saak te laat heroorweeg, insluitend die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (Sahra), provinsiale owerhede en uiteindelik die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).
Hy sê dokumentasie is in November 2025 by die NVG ingedien met ’n versoek vir heropening van die saak, op inisiatief van Aaron M. Goodman, wie se ouma se tante onder die passasiers was. “Ek verstaan dat die familie antwoorde wil hê, veral as hulle voel die ondersoek destyds was nie voldoende nie,” sê Botes.

Volgens hom moet die NVG nog bevestig of daar genoegsame gronde bestaan vir verdere ondersoek of regsaksie. Hy wys ook daarop dat die saak in die verlede aandag van die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) gekry het weens aantuigings dat die vlug deur die regering saboteer is. Die (WVK) kon in sy finale verslag in 1998 geen definitiewe bewyse vind dat die apartheidsregering of sy veiligheidsmagte die Rietbok-vliegtuig gesaboteer het nie en die saak is laat vaar.
“Ek dink baie mense het reeds hul eie oortuigings oor die saak, en dit maak dit moeilik om almal tevrede te stel,” sê hy.
Die nuwe soektog na die Rietbok-wrak het sterk teenstand van sommige familielede ontlok, wat glo die terrein behoort as ’n “oseaan-begraafplaas” beskerm te word. Die Vereniging van Families van die Rietbok-vliegtuigramp (Aforat) het ook aangedring dat toegang tot die wrak streng beheer word en dat slegs goedgekeurde partye daar mag duik.
Kritici van die projek bevraagteken verder die motiewe agter die ekspedisie, terwyl sommige families meen dat die oorspronklike ondersoek nie alle vrae beantwoord het nie en dat die saak steeds oop bly.
Botes is skepties oor die geveg om die saak te heropen en voer aan dat sy bevindinge en dié van ander vlieëniers daarop dui dat die ongeluk hoogs waarskynlik aan ’n vlieënierfout toegeskryf kan word en nie aan ’n meganiese fout met die vliegtuig nie. Aforat dring steeds daarop aan dat vuilspel betrokke was.
Sommige familielede verwerp egter dié interpretasie dat die vlieënier die oorsaak was, en vermoed dat daar inmenging van die destydse regering was. Dit spruit uit twee prominente figure wie op die vlug was, SAL wat deur die regering besit was en die wrak eers jare later opgespoor is. Botes lê egter klem op die tegnologie wat destyds gebruik is.
Of die jongste pogings tot verdere ondersoek sal lei, bly egter onduidelik, maar hoogs betwyfel deur Botes.

Agtergrond
Die wrak is deur Botes en sy span reeds in 2022 opgespoor nadat spesialis-sonar- en beeldtegnologie van oorsee ingespan is om die gebied te karteer. “Ons het nuwe tegnologie ingebring om die soektog te verfyn,” sê hy.
“Sedertdien het die projek sowat R800 000 gekos en word dit deur verskeie borge ondersteun.”
Hy sê die komende September-ekspedisie is die duurste fase tot dusver en kan tot nagenoeg R2 miljoen kos. Die dokumentêr se kontrak staan reeds bo R1 miljoen en die res word deur private instellings befonds.
Volgens Botes spoel klein dele van die wrak steeds by Kaizerstrand uit, terwyl dit die eerste keer sal wees dat die span probeer om wrakstukke fisies na die oppervlak te bring.
