Met uitkloprugby is dit dikwels moeilik om te sien wie eerste die oorhand het. Momentum swaai links en regs en spanne neem ’n tydjie om die mekaar se aanval- en verdedigingspatrone uit te pluis.
Maar om binne 10 minute 21 punte af te staan skree luidkeels dat dit vir een van die twee spanne ’n bitter moeilike stryd gaan wees om dié Verenigde Rugbykampioenskap-halfteind te wen.
Een ding waarop ’n mens blykbaar kan reken, is dat die Bulls in nóg ’n eindstryd in dié toernooi móét speel. Die eindtelling was 22-21 en Embrose Papier was oudergewoonte die speler van die wedstryd.
Hoewel Handré Pollard met ’n strafskop die Bulls eerste op die telbord laat geld het, was dit Kyle Style se twee amper identiese drieë in die 15de en 19de minuut wat die Warriors behoorlik laat voorloop het.
Ná 25 minute – en ’n strafdrie en ’n tweede geel kaart – was dit baie duidelik wie die momentum het. Die telling was 21-3 in die Warriors se guns.
Johan Grobbelaar het eindelik net ná 30 minute gedruk om die rustydtelling 21-10 te maak.
Teen halftyd het Glasgow twee meer strafskoppe afgestaan as die Bulls, maar ’n strafdrie en twee geel kaarte was die verskil. En hulle het die Bulls behoorlik laat boet vir hul swak dissipline.
So ook in die tweede helfte toe die Bulls hul tweede en derde drie gedruk het ná Glasgow se Scott Cummings koelkas toe gestuur is. Die eindtelling was dus, nes in die 53ste minuut, 22-21.
