Die Blitsbokke se droom om die eindstryd van die Bordeaux-sewestoernooi te haal, het stomp geëindig nadat hulle Sondag met 21-12 teen ’n kliniese Franse span in die halfeindstryd verloor het.
Suid-Afrika het reeds Saterdag die Wêreldkampioenskap beklink deur die laaste vier in die toernooi te haal.
In ’n taai en fisieke wedstryd was die spanne met rustyd gelykop op 7-7, maar Frankryk het in die tweede helfte weggetrek met twee goed afgeronde drieë om hul plek in die eindstryd te bespreek.
Frankryk het eerste punte aangeteken toe Enahemo Artaud in die derde minuut gaan druk het. Die Blitsbokke het vinnig teruggeslaan toe Tristan Leyds in die vyfde minuut gaan druk het, met Ricardo Duarttee wat die doelskop oorgesit het om die tellings gelyk te maak.
Die tweede helfte het aan die tuisspan behoort. Rayan Rebbadj en Antoine Zeghdar het kort ná mekaar gaan druk in die 10de en 11de minute, wat Frankryk ’n voorsprong van 21-7 gegee het.
Donavan Don het in die 13de minuut ’n laat troosdrie vir die Blitsbokke gedruk, maar dit was nie genoeg nie, aangesien Frankryk hul voorsprong behou het om met 21-12 te wen.
Ten spyte van die nederlaag het die Blitsbokke goeie veggees getoon en sal hulle nou hul aandag vestig op die wedstryd om die bronsmedalje om 16:30 (SA tyd), waar hulle teen Spanje te staan sal kom. te wen.
